C/2024 G3 (ATLAS) is 'n sonskeerderskomeet met 'n lang periode wat op 13 Januarie 2025 sy perihelium bereik het op 'n afstand van 0,09 AE (13 miljoen km) van die Son af.

Dit is tans die helderste komeet van 2025 en kan moontlik 'n skynbare magnitude van -3,8 oorskry. Die komeet is voor en ná perihelium in die Suidelike Halfrond sigbaar. In die Noordelike Halfrond is dit rondom sy perihelium slegs bedags waargeneem.

Waarnemingsgeskiedenis Die komeet is op 5 April 2024 deur die ATLAS-opname waargeneem op foto's wat in Río Hurtado, Chili, geneem is. Die komeet se magnitude was toe 19 en dit was sowat 4,38 AE van die Aarde af. Verdere waarnemings het aangedui dit het 'n verspreide koma van sowat 4,5 boogsekondes breed en 'n reguit stert.

Toe dit ontdek is, is aangeneem dit is 'n nuwe komeet uit die Oortwolk, en met sy lae absolute magnitude was daar 'n klein kans dat dit perihelium sou oorleef. Later is ontdek dit is waarskynlik 'n ou komeet wat al voorheen 'n draai om die Son gemaak het.

Teen 30 Oktober 2024 het die komeet 'n skynbare magnitude van 11,9 gehad, volgens waarnemings van die Komeetwaarnemingsdatabasis (COBS), en dit was sigbaar deur groot teleskope. Teen middel Desember 2024 het dit verhelder tot die 8ste magnitude en was dit in die sterrebeeld Skerpioen geleë. Dit was in die Suidelike Halfrond en die ewenaarstreke teen dagbreek sigbaar. Teen die einde van die maand was sy magnitude na berig word tussen 5 en 5,5, en het dit 'n koma van sowat 2 boogminute breed en 'n stert van tot 18 boogminute lank gehad.

Op 2 Januarie 2025 het die amateursterrekundige Terry Lovejoy berig die komeet ervaar 'n uitbarsting en hy het geraam die magnitude is fotografies 3,7 en wat sigbaarheid betref 3,2. Op 3 Januarie het die komeet verhelder tot 'n magnitude van 2-2,4. Dit was dié dag met die blote oog sigbaar.

Met dié komeet is dit moeilik om sy grootste helderheid te voorspel. G. van Buitenen voorspel 'n magnitude van -4, hoewel dit met sy grootste magnitude net 5 grade van die Son sal wees. Ná perihelium het die komeet suidwaarts beweeg, terwyl dit in die Noordelike Halfrond laag aan die horison was.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Komete