When They See Us is 'n misdaaddramareeks van 2019 vir televisie, met Ava DuVernay as skepper, medeskrywer en regisseur. Dit is in vier dele geskiet en die première was op 31 Mei 2019 op Netflix. Dit is geskoei op die gebeure van die Central Park-drawwersaak van 1989 en gaan oor die lewens en families van die vyf swart en Latyns-Amerikaanse mans wat valslik beskuldig en later aangekla is van 'n aanval op en die verkragting van 'n wit vrou in Central Park, New York. Akteurs sluit in Jharrel Jerome, Asante Blackk, Caleel Harris, Jovan Adepo, Michael K. Williams, Logan Marshall-Green, Joshua Jackson, Blair Underwood, Vera Farmiga, John Leguizamo, Felicity Huffman, Niecy Nash en Kylie Bunbury.

Die reeks het groot lof gekry, veral vir die akteurs se toneelspel. Op die 71ste Primetime Emmys het dit 11 benoemings gekry; Jerome het gewen vir die manlike hoofrol in 'n beperkte reeks of fliek. Die reeks het ook die Critics' Choice-televisieprys gekry vir die beste beperkte reeks.

'n Bygaande spesiale program, Oprah Winfrey Presents When They See Us Now, met 'n onderhoud met die akteurs, skepper en vyf aangeklaagdes, is op 12 Junie 2019 op Netflix en die Oprah Winfrey Network gewys.

Storielyn

When They See Us is geskoei op die gebeure van die Central Park-drawwersaak van 19 April 1989, en verken die lewe van die vyf verdagtes wat aangekla is van die seksuele aanval op 'n vrou, asook van hulle families. Die vyf jeugdiges van kleur, Kevin Richardson (Asante Blackk), Antron McCray (Caleel Harris), Yusef Salaam (Ethan Herisse), Korey Wise (Jharrel Jerome) en Raymond Santana (Marquis Rodriguez), is deur die aanklaers in twee groepe verdeel vir die verhoor. Elke jeugdige is aangekla op verskeie aanklagte wat met die aanval verband hou; vier is skuldig bevind aan verkragting. Hulle is gevonnis vir die maksimum termyn vir jeugdiges, buiten Korey Wise. Hy het sy tyd in verskeie tronke uitgedien.

Die vyf is in Desember 2002 verontskuldig nadat die ware aanvaller onteenseglik bevestig is. Hulle het die stad New York in 2003 gedagvaar vir wederregtelike skuldigbevindings en het in 2014 skadeloosstelling ontvang.

Hoofkarakters Asante Blackk as Kevin Richardson. Justin Cunningham as die volwasse Kevin Richardson. Caleel Harris as Antron McCray. Jovan Adepo die volwasse Antron McCray. Ethan Herisse as Yusef Salaam. Chris Chalk as die volwasse Yusef Salaam. Jharrel Jerome as Korey Wise. Marquis Rodriguez as Raymond Santana. Freddy Miyares as die volwasse Raymond Santana. Marsha Stephanie Blake as Linda McCray, Antron McCray se ma. Kylie Bunbury as Angie Richardson, 'n ouer suster van Kevin Richardson. Aunjanue Ellis as Sharonne Salaam, Yusef Salaam se ma. Vera Farmiga as Elizabeth Lederer. Felicity Huffman as Linda Fairstein. John Leguizamo as Raymond Santana sr., Raymond Santana se pa. Niecy Nash as Delores Wise, Korey Wise se ma. Michael K. Williams as Bobby McCray, Antron McCray se pa.

Episodes 1 "Deel 1" Ava DuVernay Draaiboek: Ava DuVernay, Julian Breece, Robin Swicord Storie: Ava DuVernay, Julian Breece Vyf adolessente (Raymond, Kevin, Korey, Yusef en Antron) word saam met vriende en familie gewys in hulle gemaklike woonbuurt Harlem, waar hulle skerts en speel. Die polisie laai hulle in Central Park op nadat verskeie ander gebruikers aangerand is, maar die beseerde drawwer word eers later ontdek, en die druk vir geregtelikheid neem toe.

2 "Deel 2" Ava DuVernay Draaiboek: Ava DuVernay, Julian Breece, Attica Locke Storie: Ava DuVernay, Julian Breece New York se polisie begin druk op die jeugdiges uitoefen om skuld op die aanrandings te beken. Die polisie steek hulle teen mekaar op en praat met hulle sonder die teenwoordigheid van ouers en resgverteenwoordigers. Die wrede aanval op die drawwer laat die druk op die polisie toeneem om die misdaad op te los en op die aanklaer om 'n verhoor te begin. Daar is suggesties dat die tydlyne, botsende weergawes en gebrek aan bewyse nie ooreenkom nie, maar die juries vind elke aangeklaagde aan die meeste aanklagte skuldig.

3 "Deel 3" Ava DuVernay Draaiboek: Ava DuVernay, Robin Swicord Storie: Ava DuVernay Antron, Yusef, Kevin en Raymond het 'n moeilike tyd in aanhouplekke vir jeugdiges. Hulle word eindelik ná jare vrygelaat en pas moeilik by die lewe daar buite aan.

4 "Deel 4" Ava DuVernay Draaiboek: Ava DuVernay, Michael Starrbury Storie: Ava DuVernay Korey is in 'n tronk vir volwassenes en het die ergste ondervindings. Hy kies eensame opsluiting bo herhaalde aanvalle deur medegevangenes, wat deur die wagte gesteun word. In 2002 beken die ware aanvaller skuld en sy DNS bewys sy weergawe van die aanval korrek. Die vyf se skuldigbevindings word tersyde gestel. Hulle maak 'n saak teen die stad en in 2014 word skadeloosstelling aan hulle betaal. Daar is aan die einde van die reeks kort opsommings oor hulle latere lewens (huwelike, werk, aktivisme en ander besonderhede). Vier van die vyf het uit die stad getrek en 'n lewe elders begin.

Spesiale program "Oprah Winfrey Presents: When They See Us Now" Mark Ritchie Oprah Winfrey voer onderhoude met die hoofakteurs en uitvoerende vervaardigers, asook met die vyf wat verontskuldig is.

Ontvangs Op 25 Junie 2019 het Netflix aangekondig die minireeks is deur 23 miljoen mense gekyk binne die eerste maand van sy uitreiking.

When They See Us het algemeen goeie resensies gekry. Op Rotten Tomatoes het dit 'n goedkeuringsyfer van 97% gekry, gebaseer op 86 resensies, met 'n gemiddelde punt van 8,4/10. Op Metacritic het dit 86 uit 100 gekry, gebaseer op 27 resensies, wat dui op algemene lof.

Daniel D'Addario van Variety het 'n gloedvolle resensie geskryf en gesê "die minireeks se plek op 'n stromingsdiens ondanks sy moeilike onderwerp bewys die merkwaardige gebruik van die regisseur se sterkrag". Roger Ebert se Odie Henderson het dit 3 sterre uit 4 gegee en gesê: "Dit doen soveel dit kan om die blik op swart en bruin mense te wysig, en wek empatie en die begeerte vir geregtigheid. Dit demoniseer die regte mense en lok jou woede uit oor die gebeure." Daniel Fienberg van The Hollywood Reporter beveel die minireeks in sy resensie aan en sê: "When They See Us is 'n sterk poging om van 'n epiese geregtelike mislukking te vertel en om 'n sin van die mans as individue te herstel, eerder as gesiglose lede van 'n valslik beskuldigde gemeenskap."

Matt Goldberg van Collider het dit 'n baie positiewe resensie gegee en geskryf:" Die emosionele impak van When They See Us kan nie oorbeklemtoon word nie." Hy prys DuVernay, en ook Bradford Young se kinematografie In nog 'n postiewe resensie skryf Jen Chaney van Vulture "Ava DuVernay se sensitiewe Netflix-minireeks oor wat met hierdie seuns gebeur het, systap die verontmenslikende neiging om hulle almal saam te bondel en wys eerder wat elk van hulle individueel ervaar het toe hulle gedwing is om valse verklarings af te lê, 'n vonnis uit te dien vir 'n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie en, eindelik, toe hulle vonnisse in 2002 tersyde gestel is."

Pryse Die reeks het talle pryse gewen. Dit het 11 benoemings vir Primetime Emmys gekry en Jerome het gewen vir die manlike hoofrol in 'n beperkte reeks of fliek. Die reeks het ook onder andere die Critics' Choice-televisieprys gekry vir die beste beperkte reeks.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse televisiereekse