The Unforgivable is 'n dramarolprent van 2021 wat deur Nora Fingscheidt geregisseer is. Dit is geskoei op die Britse minireeks Unforgiven van 2009, wat deur Sally Wainwright geskryf is. In die prent is Sandra Bullock 'n vrou wat ná 20 jaar uit die tronk vrygelaat word en vasbeslote is om met haar vervreemde jonger suster verenig te raak. Ander akteurs is Vincent D'Onofrio, Jon Bernthal, Richard Thomas, Linda Emond, Aisling Franciosi, Rob Morgan en Viola Davis.
Dit is 'n medeproduksie van Amerika, Brittanje en Duitsland en is vervaardig deur Bullock, Graham King en Veronica Ferres. Die verfiling het in Februarie 2020 in Vancouver begin en is in Oktober dié jaar voltooi. Dit het op 10 Desember 2021 op Netflix begin wys. Dit het gemengde resensies gekry, maar Bullock se spel is geprys.
Storielyn
Ruth Slater word vrygelaat nadat sy 20 jaar in die tronk was omdat sy 'n sheriff vermoor het wat haar en haar vyfjarige suster, Katie, uit hulle huis in Snohomish, Washington, wou sit. Ná haar vrylating kry sy twee werke en begin 'n soektog na haar vervreemde jonger suster.
Katie, wat deur haar aanneemouers in Seattle grootgemaak is, onthou Ruth nie bewustelik nie, hoewel sy kort oomblikke van trauma onthou. Op die dag van Ruth se vrylating is Katie in 'n motorongeluk betrokke, en sy keer na haar aanneemouers se huis terug om te herstel. Katie se ouers is bekommerd dat die ongeluk deur haar herinneringe veroorsaak is en dat sy op 'n manier daaarvan bewus is dat Ruth vrygelaat is. Hulle stem saam dat hulle reg gehad het om die waarheid vir Katie weg te steek, vir haar eie beswil.
Intussen het Keith, die oudste seun van die sheriff wat Ruth vermoor het, van haar vrylating uitgevind en hy begin haar agtervolg. Hy vind uit waar sy woon en werk. Hy beplan wraak, maar kan nie sy jonger broer, Steve, oorreed om hom te help nie. Dié vertel aanhoudend vir Keirh om sake uit te los.
Eendag keer Ruth terug na haar vorige huis en sien dit is heeltemal gerestoureer. Sy ontmoet die nuwe inwoners, John en Liz Ingram. John nooi Ruth binne om die restourasies te sien. Toe Ruth die huis verlaat, gee John haar 'n geleentheid na die busstop. Ruth vind uit John is 'n korporatiewe prokureur, en sy vertel vir hom van haar soektog na Katie. Hy besluit om haar te help, maar vind kort daarna die waarheid oor haar verlede uit. Ruth vra verskoning omdat sy gejok het en John besluit om haar verder te help.
Terwyl Ruth op 'n bouperseel werk, praat sy vir 'n kort rukkie met Steve, sonder dat sy besef wie dit is. Steve noem haar ouers en Ruth sê hulle is dood. Steve sê hy is jammer, en Ruth antwoord: "Die lewe gaan aan." Toe sy weg is, gaan Steve deur haar besittings en ontdek 'n foto van Katie.
John vind uit waar Katie en haar gesin woon. Hy reik uit na die ouers en hulle stem teensinnig is om Ruth anoniem te ontmoet. Tydens die ontmoeting vind Ruth uit hulle het Katie met opset nie van haar vertel nie en het al die briewe teruggehou wat sy gedurende haar jare in die tronk aan Katie geskryf het. Hulle vertel vir Ruth dat Katie nie van haar weet of haar onthou nie, en dat dit beter vir haar is dat dit so bly. Toe Ruth 'n emosionele uitbarsting het, storm Katie se ouers woedend uit die kamer.
Emily, die biologiese dogter van Katie se aanneemouers, hoor haar ouers oor Ruth praat en ontdek die briewe. Sy lees dit en word geraak deur Ruth se woorde. Emily besluit om Ruth te kontak en 'n ontmoeting te reël. Ná die ontmoeting vertel sy vir Ruth dat Katie later dié dag 'n klavieroefening in 'n plaaslike ouditorium het. Toe Emily terugloop huis toe volg Steve haar en vind uit waar sy woon.
Ruth keer terug na die Ingrams se huis om met John te praat. Hy is nie tuis nie en 'n woedende Liz sê vir Katie om hulle uit te los. Deur terugflitse word onthul dit was die vyfjarige Katie wat die sheriff doodgeskiet het, maar dat Ruth die skuld aanvaar het om haar te beskerm. Toe Liz die waarheid uitvind, het sy medelye met Ruth en gee sy haar 'n geleentheid na die klavieroefening.
Nadat hy met Katie gepraat het, raak Steve al hoe meer oortuig dat dit nodig is om wraak te neem. Hy betrap egter sy broer in die bed met sy vrou en slaan hom uit woede. Hy ontvoer Emily omdat hy dink sy is Katie. Toe Ruth by die klavieroefening aankom, kry sy 'n oproep van Steve, wat eis dat sy kom na die kamer waar hy en Emily is. Liz gee haar 'n geleentheid daarheen en toe sy bewus word van wat aangaan, verwittig sy die polisie terwyl Ruth in die kamer ingaan. Steve vertel vir Ruth hy beplan om Emily te vermoor, maar Ruth praat hom om om dit nie te doen nie. Ruth help Emily uit die kamer kom en gee haarself aan die polisie oor, en Steve word in hegtenis geneem. Haar paroolbeampte kom op die toneel aan en Ruth word vrygelaat. Toe Ruth wegloop, sien sy Emily se ouers en Katie het Emily kom haal. Ruth en Katie ontmoet eindelik weer en omhels mekaar.
Rolverdeling Sandra Bullock is Ruth Slater Vincent D'Onofrio is John Ingram Jon Bernthal is Blake Richard Thomas is Michael Malcolm Linda Emond is Rachel Malcolm Aisling Franciosi is Katherine Malcolm Rob Morgan is Vincent Cross Viola Davis is Liz Ingram Emma Nelson is Emily Malcolm W. Earl Brown is sheriff Mac Whelan Thomas Guiry is Keith Whelan Will Pullen is Steve Whelan
Ontvangs The Unforgivable is die Engelse prent wat in die eerste week ná sy uitreiking die meeste gekyk is op die stroomdiens Netflix, met 85,86 miljoen uur se kyktyd. Dit het dié prestasie in die tweede week ná sy uitreiking behou, met 74,44 miljoen uur se kyktyd.
In die derde week was die prent in die tweede plek, naas Don't Look Up, met kyktyd van 26,6 miljoen uur. Dit was ook die tweede prent met Sandra Bullock in die rolverdeling onder die top-10- gestroomde prente van alle tye op Netflix, met kyktyd van altesaam 186,9 miljoen uur.
In die vyfde week het die prent tot die vyfde posisie gedaal, met kyktyd van 11,34 miljoen uur.
Op Rotten Tomatoes het die prent 'n goedkeuringsyfer van 38%, gebaseer op 91 resensies, met 'n gemiddelde punt van 5/10. Op Metacritic het die prent 'n punt van 41 uit 100, gebaseer op 20 resensies, wat dui op "gemengde of gemiddelde resensies".
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente Kategorie:Britse rolprente Kategorie:Duitse rolprente