Die Wêreldsig-terrein by Pietermaritzburg is ’n natuurmonument en geskiedkundige besienswaardigheid.

Die helling van Swartkop, ’n punt van die Boesmansberg styg geleidelik noordwes van Pietermaritzburg op om ’n natuurlike plato te maak van waar ’n mens ’n uitsig het oor Pietermaritzburg en die Msunduzivallei.

Sedert die koms van die Voortrekkers in 1838 na hierdie omstreke het die enigste pad van Durban en oor Pietermaritzburg na die Drakensberg jare lank oor hierdie terrein geloop. Hoewel tans onbegaanbaar, het die ou Voortrekkerpad uit Pietermaritzburg teen die helling van die berg uit, oor Wêreldsig en oor die rûens tot by Allemansdrif in die Mgenirivier geloop.

Op sommige plekke is die slote wat die remskoene van die ossewaens in die rotslae gelaat het, nog te sien. Die pad het waarskynlik ’n ou voetpad gevolg, maar watter Voortrekkers dit vir die eerste keer met hul waens oor hierdie hoogtes gewaag het, is in die geheel nie seker nie.

Prof. J.J. Oberholster spekuleer dat Gerrit Maritz en Karel Landman wat in Mei 1838 met ’n sterk kommissie van 150 man en 30 waens aan Port Natal besoek afgelê het, miskien hierdie roete vir die eerste keer behoorlik oopgetrap. In Oktober 1838 het kmdt. Pieter Greyling hom op Boesmansrand, waar Pietermaritzburg later uitgelê sou word, gevestig en hierna sou daar gereelde verkeer van die Baai en van die binneland oor hierdie pas wees. Eers baie jare later sou die ou pad in onbruik raak.

Galery

Verwysings

Bronne

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Museums in Suid-Afrika Kategorie:Pietermaritzburg