Lucianus van Samosata (Λουκιανὸς ὁ Σαμοσατεύς, omstreeks 125 – ná 180) was 'n ge-helleniseerde Siriese satirikus en retorikus wat veral bekend is vir sy karakteristieke tong-in-die-kies styl waarmee hy gereeld die gek geskeer het met bygelowigheid, godsdienstige gebruike en geloof in die bonatuurlike. Alhoewel sy moedertaal waarskynlik Siries was, is sy werke wat na ons oorgelewer is byna geheel en al in Oudgrieks (meestal in die Attiese dialek wat gewild was gedurende die Tweede Sofistiese tydperk).

Alles wat bekend is oor Lucianus se lewe kom uit sy eie skryfwerk, wat dikwels moeilik is om te interpreteer as gevolg van sy gebruik van sarkasme. Volgens sy Die Droom was hy deel van 'n gesin uit die laer middelklas in Samosata, geleë langs die oewer van die Eufraat in die afgeleë Romeinse provinsie van Syria. As jong man was hy werksaam as vakleerling by sy oom om beeldhouer te word, maar na 'n mislukte poging tot beeldhouwerk het hy weggehardloop om opleiding in Ionië te ontvang. Hy het waarskynlik 'n reisende dosent geword en universiteite reg deur die Romeinse Ryk besoek. Nadat hy danksy sy lesings roem en rykdom verwerf het, het Lucianus hom uiteindelik vir 'n dekade in Athene gevestig, waartydens hy die meeste van sy bestaande werke geskryf het. In sy vyftigs is hy moontlik aangestel as 'n hoogs betaalde staatsamptenaar in Egipte, waarna hy uit die historiese rekord verdwyn.

Lucianus se werke was baie gewild in die oudheid, en meer as tagtig geskrifte wat aan hom toegeskryf is bestaan vandag nog, 'n aansienlik groter hoeveelheid as vir die meeste ander klassieke skrywers. Sy bekendste werk is 'n Ware verhaal, 'n spitsvondige satire teen skrywers wat ongelooflike verhale vertel. Dit word deur sommige as die vroegste bekende wetenskapsfiksiewerk beskou. Lucianus het die genre komiese dialoog uitgevind, 'n parodie op die tradisionele Sokratiese dialoog. Sy dialoog Liefhebber van leuens dryf die spot met mense wat in die bonatuurlike glo en bevat die oudste bekende weergawe van "Die towenaarsleerling". Lucianus het talle satires geskryf wat die spot dryf met tradisionele verhale oor die gode, insluitend Dialoë van die gode, Icaromenippus, Zeus ontplof, Zeus gekatkiseer en Die parlement van die gode. Sy Dialoë van die dooies fokus op die Siniese filosowe Diogenes en Menippus. Filosofieë te koop dryf die spot met verskeie filosofiese skole en Die vissermanne óf Die dooies rys weer op is 'n verdediging van hierdie bespotting.

Lucianus het dikwels openbare figure bespot, soos die Siniese filosoof Peregrinus Proteus in sy brief Die heengaan van Peregrinus en die bedrieglike orakel Alexander van Abonoteichus in sy Alexander die valse profeet. Lucianus se verhandeling, Oor die Siriese godin, satiriseer kulturele onderskeidings tussen Grieke en Siriërs en is die hoofbron van inligting oor die kultus van Atargatis.

Lucianus het 'n enorme impak op Westerse letterkunde gehad. Werke wat geïnspireer is deur sy werke sluit in Thomas More se Utopia, die werke van François Rabelais, William Shakespeare se Timon van Athene en Jonathan Swift se Gulliver's Travels.

Lewe Biografiese bronne Lucianus word nie genoem in enige kontemporêre tekste deur ander skrywers nie en hy is nie ingesluit in Philostratus se Lewe van die Sofiste nie. As gevolg hiervan kom alles wat oor Lucianus bekend is uitsluitlik uit sy eie geskrifte. 'n Verskeidenheid karakters met name baie soortgelyk aan Lucianus, insluitend "Lukinos", "Lukianos", "Lucius" en "Die Siriër" verskyn regdeur Lucianus se geskrifte. Hierdie benamings is dikwels deur skolastici en biograwe geïnterpreteer as "maskers", "alter-ego's" of "mondstukke" van die skrywer. Daniel S. Richter kritiseer die algemene neiging om sulke "Luciaanse figure" as self-invoegsels (Self-invoeging is 'n literêre tegniek waarin die skrywer homself in die verhaal "inskryf" onder die dekmantel van, of vanuit die perspektief van, 'n fiktiewe karakter. Die karakter, openlik of andersins, tree op soos, het die persoonlikheid van, en kan selfs beskryf word as die fisiese vergestalting van die skrywer van die werk.) deur die skrywer te vertolk. en voer aan dat hulle in werklikheid bloot fiktiewe karakters is wat Lucianus gebruik om mee te "dink" wanneer hy konvensionele onderskeidings tussen Grieke en Siriërs satiriseer. Hy stel voor dat hulle hoofsaaklik as 'n literêre stylfiguur deur Lucianus gebruik word om beskuldigings af te weer dat hy as die "Siriese skrywer" "die suiwerheid van die Griekse idioom of genre op een of ander manier skade aangedoen het" deur sy gebruik van komiese dialoog. Die Britse klassikus Donald Russell verklaar: "'n Goeie deel van wat Lucianus oor homself te sê het kan net so min vertrou word as die verhaal van die reis na die maan, wat hy op so 'n oortuigende wyse in die eerste persoon vertel in Ware Stories"; hy waarsku dat "dit dwaas is om [die inligting wat hy oor homself in sy werk gee] as outobiografiese materiaal te behandel."

Agtergrond en grootwordjare Lucianus is gebore in Samosata aan die oewers van die Eufraat aan die oostelike buitewyke van die Romeinse Ryk. Samosata was tot 72 n.C. die hoofstad van die Koninkryk Commagene, toe dit geannekseer is deur Vespasianus en ingelyf is by die Romeinse provinsie van Syria. Die bevolking van die dorp het meestal uit Assiriërs bestaan, en Lucianus se moedertaal was waarskynlik Siries, 'n vorm van Aramees.

Gedurende Lucianus se leeftyd was die tradisionele Grieks-Romeinse religie aan't kwyn, en die religie se rol in die beskawing was grootliks seremonieel. As plaasvervanger vir tradisionele religie het baie mense in die Hellenistiese wêreld aangesluit by Misteriegodsdienste soos die Misterieë van Isis, Mithraïsme, die Kubelekultus en die Eleusiniese misterieë. Bygelowigheid het nog altyd algemeen voorgekom in die antieke beskawings, maar dit was veral algemeen voorgekom in die tweede eeu. Die meeste opgevoede mense uit Lucianus se tyd het op een of ander stadium een van die verskeie Hellenistiese filosofieë aangehang, waarvan die belangrikste die Stoïsisme, Platonisme, Peripatetiese skool, Pyrronisme en Epikurisme was. Elke groot dorp het sy eie 'universiteit' gehad en hierdie 'universiteite' het dikwels die dienste benut van professionele reisende dosente wat dikwels groot bedrae betaal is vir hul lesings oor verskeie filosofiese rigtings. Die mees gesogte sentrum van studie was die stad Athene in Griekeland wat oor 'n lang intellektuele geskiedenis beskik het.

Volgens Lucianus se redevoering, Die Droom (wat hy volgens die klassieke geleerde Lionel Casson waarskynlik as 'n toespraak gelewer het toe hy op 35-jarige of 40-jarige leeftyd na Samosata teruggekeer het nadat hy sy reputasie as 'n groot redenaar gevestig het), was sy ouers afkomstig uit die laer middelklas en was sy ooms beeldhouers. Lucianus se ouers kon nie bekostig om hom 'n hoër opvoeding te gee nie, en nadat hy sy laerskoolopleiding voltooi het, het Lucianus se oom hom as vakleerling aangeneem. Lucianus se vaardighede was egter so power dat hy die standbeeld waaraan hy gewerk het verwoes het. Sy oom het hom geslaan en hy het weggehardloop. Lucianus het aan die slaap geraak en 'n droom ervaar waarin die personifikasies van die beeldhoukuns en Kultuur oor hom baklei het. Hy het besluit om na Kultuur te luister en 'n opvoeding na te jaag.

Alhoewel Die Droom lank reeds deur skolastici as 'n ware outobiografie van Lucianus behandel word, is die werk as historiese bron onbetroubaar. Die klassikus Simon Swain bestempel dit as "'n oulike maar taamlik apokriewe weergawe van Lucianus se opvoeding" en Karin Schlapbach noem dit "ironies". Richter voer aan dat dit glad nie outobiografies is nie, maar eerder 'n prolalia (προλᾰλιά), of speelse literêre werk, en 'n "ingewikkelde meditasie oor 'n jong man se verkryging van "paideia" [d.w.s. onderwys]. Russell maak Die Droom af as geheel en al fiktief, met die opmerking: "Ons onthou dat Sokrates ook as beeldhouer begin het, en Ovidius se visioen van Elegie en Tragedie (Amores 3.1) is heeltemal te eenders aan Lucianus se weergawe."

Opvoeding en loopbaan

In Lucianus se Dubbele aanklag lewer die personifikasie van Retoriek 'n toespraak waarin sy die naamlose verweerder beskryf, wat beskryf word as die "Siriese" skrywer van transgressiewe dialoë, op die stadium toe sy hom gevind het wat ronddrentel in Ionië in Anatolië "met geen idee wat hy met homself moet maak nie". Sy beskryf hoe "die Siriër" op hierdie stadium van sy loopbaan "steeds op 'n barbaarse wyse praat en 'n kaftan [] op die Assiriese wyse dra". Retoriek konstateer dat sy "hom geneem het en ... " aan hom verskaf het.

Skolastici het vir baie jare die "Siriër" in hierdie werk vertolk as Lucianus self en in die redevoering Lucianus se vlug na Ionië, waar hy sy opvoeding nagejaag het, geëien. Richter argumenteer egter dat die "Siriër" nie Lucianus is nie, maar eerder 'n literêre middel is wat Lucianus gebruik om literêre en etniese norme te ondermyn.

Ionië was destyds die middelpunt van die retoriek. Die mees gesogte universiteite van retoriek was in Efese en Smyrna, maar dit is onwaarskynlik dat Lucianus dit kon bekostig om die onderrig aan enige van hierdie skole by te bring. Dit is nie bekend hoe Lucianus sy geleerdheid verwerf het nie, maar op een of ander manier het hy daarin geslaag om 'n uitgebreide kennis van retoriek op te doen sowel as klassieke letterkunde en filosofie.

Lucianus noem in sy dialoog Die visserman dat hy aanvanklik gepoog het om sy kennis van retoriek toe te pas en 'n prokureur te word, maar dat hy ontnugter is deur die bedrieglikheid van dié beroep en besluit het eerder 'n filosoof te word. Lucianus het deur die Ryk gereis en lesings regoor Griekeland, Italië en Gallië gegee. In Gallië het Lucianus waarskynlik die pos van hoogs betaalde staatsprofessor beklee.

Omstreeks 160 het Lucianus teruggekeer na Ionië as 'n welgestelde en bekende persoon. Hy het Samosata besoek en vir etlike jare in die ooste aangebly. Daar is aangeteken dat hy in óf 162 óf 163 in Antiochië was. In ongeveer 165 het hy 'n huis in Athene gekoop en sy ouers uitgenooi om by hom in die stad te kom woon. Lucianus moes tydens sy reise getrou het, want in een van sy geskrifte noem hy dat hy op hierdie stadium 'n seun het.

Lucianus het ongeveer 'n dekade in Athene gewoon. In hierdie tyd het hy opgehou het om lesings te gee en eerder sy aandag aan skryf gewy. Dit was gedurende hierdie dekade dat Lucianus byna al sy bekendste werke geskryf het. Hy het eksklusief in Grieks geskryf,James D. G. Dunn, John William Rogerson, Eerdmans Commentary on the Bible, p. 1105, . en hoofsaaklik in die Attiese dialek wat gewild was tydens die Tweede Sofistiese era, maar Oor die Siriese godin, wat aan Lucianus toegeskryf word, is geskryf in 'n hoogs suksesvolle nabootsing van Herodotus se Ioniese Grieks, wat sommige geleerdes onder die indruk gebring het dat Lucianus nie die ware outeur daarvan is nie.

Lucianus het in omstreeks 175 om onbekende redes ophou skryf en weer begin reis en lesings gee. Tydens die bewind van keiser Commodus (180–192) is 'n bejaarde Lucianus moontlik aangestel in vermoënde regeringspos in Egipte. Op hierdie punt verdwyn hy egter heeltemal uit die historiese rekord, en niks is oor sy dood bekend nie.

Oogpunte regs|duimnael|upright=0.8|Borsbeeld van Epikurus, 'n Atheense filosoof vir wie Lucianus groot bewondering gehad het.