Epiphanius van Salamis (Oudgrieks: Ἐπιφάνιος; omstreeks 310–320 – 403) was die biskop van Salamis, Siprus, aan die einde van die 4de eeu. Hy word deur beide die Oosters-Ortodokse en Rooms-Katolieke kerke as 'n heilige en kerkvader beskou. Hy was 'n kranige verdediger van die ortodoksie. Hy is veral bekend vir die skryf van die Panarion, 'n samevatting van tagtig dwaallere, wat ook heidense gelowe en filosofiese denkrigtings ingesluit het. Daar was baie omstredenheid oor hoeveel van die aanhalings wat deur die Bisantynse Ikonoklaste aan hom toeskryf is werklik deur hom was. Ongeag hiervan was hy duidelik gekant teen sommige gebruike van beelde in die kerk in sy eie tyd.Kitzinger, 92–93, 92 aangehaal

Lewe Epiphanius is gebore in óf 'n Romanioties-Christelike familie óf het hom in sy jeug tot die Christendom bekeer. Hoe dit ook al sy, hy was 'n Romaniotiese Jood wat gebore is in die klein nedersetting Besanduk naby Eleutheropolis (die hedendaagse Beit Guvrin in Israel), en het as 'n monnik geleef in Egipte, waar hy opgevoed is en met Valentinianisme in aanraking gekom het. Hy het in omstreeks 333, terwyl hy nog 'n jong man was, teruggekeer na Romeinse Palestina en 'n klooster gestig in die naburige Ad,Die meer bekende klooster van Epiphanius naby Thebe, Egipte is gestig deur 'n anachoreet genaamd Epiphanius teen die einde van die sesde eeu; dit is verken deur 'n ekspedisie van die Metropolitan Museum of Art, 1912–14. wat dikwels genoem word in die polemieke tussen onderskeidelik Epiphanius en Hieronimus teen Rufinus en Biskop Johannes II van Jerusalem. Hy is georden as priester en was vir dertig jaar aan die hoof van die klooster in Ad. In die tyd het hy baie vaardighede en kennis verwerf. Hy het verskeie tale aangeleer, insluitend Hebreeus, Siries, Egipties, Oudgrieks en Latyn, en is om die rede deur Hieronimus Pentaglossos ("Vyftong") genoem.Ruf 3.6

Sy reputasie as geleerde het gelei tot sy benoeming en inwyding as Biskop van Salamis, Siprus,Salamis was ook ná Konstantyn II van Rome bekend as Constantia. in 365 of 367, 'n pos wat hy tot sy dood beklee het. Hy was ook die Metropoliet van die Kerk van Siprus. Hy het vir byna veertig jaar as biskop gedien en wyd gereis om verskillende oortuigings te bestry. Hy was teenwoordig by 'n sinode in Antiochië (376) waar daar gedebatteer is oor die Drie-eenheid van God teenoor die dwaalleer van Apollinarisme. Hy het die posisie van Biskop Paulinus van Antiochië, wat die steun van Rome gehad het, gehandhaaf bo dié van Meletius van Antiochië, wat deur die Oosters-Ortodokse Kerke ondersteun is. In 382 was hy teenwoordig tydens die Sinode van Rome, om weer Paulinus se saak te ondersteun.

Die Origenisme-kontroversie en sy dood Tydens 'n besoek aan Palestina in 394 of 395, terwyl hy in Jerusalem gepreek het, het hy Origenes se volgelinge aangeval en die Biskop van Jerusalem, Biskop Johannes II van Jerusalem, aangespoor om sy skrywes te veroordeel. Hy het Johannes aangemoedig om versigtig te wees vir die “afstootlikheid” van beelde in die kerke. Hy het opgemerk dat hy, toe hy in Palestina gereis het, by 'n kerk ingegaan het om te bid en 'n gordyn met 'n beeld van Christus of 'n heilige gesien het wat hy afgetrek het. Hy het aan Biskop Johannes gesê dat sulke beelde "teenoor ons godsdiens is" (sien hieronder).Deel 9, Brief LI. Van Epiphanius, Biskop van Salamis, in Siprus, aan Johannes, Biskop van Jerusalem (omstreeks 394), http://www.newadvent.org/fathers/3001051.htm. Hierdie gebeurtenis het die saad van konflik gesaai wat gelei het tot die dispuut tussen Rufinus en Biskop Johannes II van Jerusalem teen Hieronimus en Epiphanius. Epiphanius het hierdie konflik aangevuur deur 'n priester vir Hieronimus se klooster by Bethlehem te orden en sodoende Johannes se jurisdiksie te oortree. Hierdie geskil het gedurende die 390's voortgeduur, veral in die aanvallende literêre werke van Rufinus en Hieronymus teenoor mekaar. duimnael|299x299px|'n Gravure deur Jan Luyken wat Epiphanius en die terugkeer van sy liggaam na Konstantinopel uitbeeld. In 399 het die dispuut 'n ander kleur aangeneem toe die Biskop van Alexandrië, Theophilus, wat aanvanklik biskop Johannes II van Jerusalem ondersteun het, sy siening verander het en Origeneste-monnike in Egipte begin vervolg het. As gevolg van hierdie vervolging het vier van hierdie monnike na Palestina gevlug, en toe na Konstantinopel gereis om ondersteuning te soek en die kontroversie te versprei. Sint Johannes Chrysostomus het die monnike skuiling gegee. Biskop Theophilus van Alexandrië het sy kans waargeneem om die gebeure te gebruik om sy vyand, Sint Johannes Chrysostomus tot ’n val te bring: in 402 het hy 'n konsilie in Konstantinopel byeengeroep en diegene uitgenooi wat sy anti-Origeneste sienings ondersteun het. Epiphanius, teen hierdie tyd amper 80, was een van diegene wat ontbied is, en het die reis na Konstantinopel begin. Toe hy egter besef dat hy deur Theophilus as wapen teen Chrysostomus gebruik word, wat toevlug gegee het aan die monnike wat deur Theophilus vervolg is, en wat 'n beroep op die keiser gedoen het, het Epiphanius teruggekeer na Salamis, net om in 403 op pad huis toe te sterf. Frances Young saam met Andrew Teal, From Nicaea to Chalcedon: A Guide to the Literature and its Background, (2de druk, 2004), pp202-3

Die gordyn-insident Brief LI uit Hieronimus se Briewe bevat sy Latynse vertaling, gemaak op versoek van Epihanius, van sy brief uit omstreeks 394 (oorspronklik in Grieks geskryf), "Van Epiphanius, biskop van Salamis, in Siprus, aan Johannes, biskop van Jerusalem" (sien die vorige afdeling vir konteks). Die laaste deel handel oor die insident van die gordyn wat, anders as ander passasies wat aan Epiphanius toegeskryf word en aangehaal is deur die ikonoklaste, deur moderne skolastici as outentiek aanvaar word:Kitzinger, 92–93 en uitgebreide aantekening 9. Verdermeer het ek gehoor dat sekere persone hierdie grief teen my het: Toe ek jou vergesel het na die heilige plek genaamd Bet-el, om saam met jou die Kollekte te vier, ná die gebruik van die Kerk, het ek by 'n villa genaamd Anablatha gekom, en toe ek verbygaan, sien ek 'n brandende lamp. Toe ek vra watter tipe plek dit is, en besef dat dit 'n kerk is, het ek ingegaan om te bid, en daar 'n gordyn gevind wat aan die deure van die kerk hang, gekleur en geborduur. Dit het 'n beeld van Christus of van een van die heiliges bevat; Ek kan nie mooi onthou wie se beeld dit eintlik was nie. Toe ek dit sien; en afkerig daarvan dat 'n beeld in stryd met die heilige skrifture in Christus se kerk opgehang is; het ek dit uitmekaar geskeur en die bewaarders van die plek aangeraai om dit as 'n sterflaken vir 'n arm persoon te gebruik. Hulle het egter gemurmureer en gesê dat indien ek besluit het om dit te skeur, dit net reg is dat ek vir hulle nog 'n gordyn in die plek daarvan gee. Toe ek dit hoor, het ek belowe dat ek een sal gee, en gesê dat ek dit dadelik sal stuur. Sedertdien was daar 'n klein vertraging as gevolg van die feit dat ek 'n gordyn van die beste gehalte vir hulle wil gee in plek van die vorige een, en dit derhalwe goedgedink het om een van Siprus aan te vra. Ek het nou die beste gordyn gestuur wat ek kon kry, en ek smeek jou dat jy die presbiter van die plek sal beveel om die gordyn wat ek gestuur het te neem, en dat jy daarna opdrag sal gee dat gordyne van die ander soort–wat in stryd met ons godsdiens is–nie in enige kerk van Christus opgehang sal word nie. 'n Man van opregtheid soos jy moet alles in jou vermoë doen om 'n afstootlikheid te verwyder wat onwaardig is vir die Kerk van Christus en van daardie Christene wat onder jou leiding is. Pasop vir Palladius van Galasië-'n man wat eens vir my dierbaar was, maar wat nou God se genade nodig het-want hy verkondig die dwaalleer van Origenes; en sorg dat hy niemand van dié wat aan jou toevertrou is, verlei tot die verkeerde weë van sy dwaalleer nie. Ek bid dat dit met jou goed sal gaan in die naam van die Here.

Skryfwerk

Panarion Sy bekendste boek is die Panarion (van Latyn , "broodmandjie" < panis, "brood"), ook bekend as die Adversus Haereses, "Teen Dwaallere". Dit is aangebied as 'n boek van "teenmiddels" vir diegene wat deur die slang van kettery gebyt is. Dit is geskryf tussen 374 en 377, en het gefunksioneer as handboek oor hoe om die argumente van ketters teen te gaan. duimnael|'n Uitbeelding uit die 11de eeu van Sint Epiphanius in die Sint Sofia Katedraal in Kiëf Dit lys en weerlê 80 dwaallere, waarvan sommige nie in enige ander bestaande dokumente uit die tyd beskryf word nie. Epiphanius begin met die 'vier moeders' van die voor-Christelike dwaallere – 'barbarisme', 'Skitiïsme', 'Hellenisme' en 'Judaïsme' – en spreek dan die 16 voor-Christelike dwaallere aan wat daaruit voortgevloei het: die vier filosofiese skole (Stoïsyne, Platoniste, Pythagoreërs en Epikureërs), en 12 Joodse sektes. Hierop volg dan 'n tussenspel, wat vertel van die menswording van die Woord. Hierna begin Epiphanius met sy relaas van die 60 Christelike dwaallere, van uiteenlopende gnostici, tot die verskillende trinitariese dwaallere van die vierde eeu, en sluit af met die Kolliridiërs en Messaliane (ander name waaronder lg. bekendstaan is die Eugiete of Eufemiete).Andrew Louth, 'Palestine', in Frances Young, Lewis Ayres en Andrew Young, reds, The Cambridge History of Early Christian Literature, (2010), p286

Terwyl Epiphanius se ywer dikwels die oorhand kry–hy erken by een geleentheid dat hy teen die Origeniste skryf slegs op grond van hoorsê (Panarion, Epiphanius 71)–is die Panarion 'n waardevolle bron van inligting oor die Christelike Kerk van die vierde eeu. Dit is ook 'n belangrike bron rakende die vroeë Joodse evangelies soos die Evangelie volgens die Hebreërs, wat onder die Ebioniete en die Nasareners gesirkuleer het, asook die volgelinge van Cerinthus en Merinthus.Epiphanius, Panarion, 30 iii 7

Een unieke kenmerk van die Panarion is die wyse waarop Epiphanius die verskillende ketters met verskillende giftige diere vergelyk, en so ver gaan as om die dier se eienskappe in detail te beskryf, hoe dit sy gif produseer en hoe om jouself te beskerm teen die dier se byt of gif. Hy beskryf byvoorbeeld sy vyand Origenes as "'n padda wat raas van te veel vog en wat harder en harder aanhou kwaak." Hy vergelyk die Gnostici met 'n besonder gevreesde slang "met geen slagtande." Die Ebioniete, 'n Christelike sekte wat Joodse wette gevolg het, is deur Epiphanius beskryf as "'n monster met baie gedaantes, wat feitlik die slangagtige vorm van die mitiese veelkoppige Hidra aangeneem het." In totaal beskryf Epiphanius vyftig diere, gewoonlik een per sekte.

'n Verdere kenmerk van die Panarion is die toegang wat die vroeëre afdelings daarvan bied tot verlore werke, veral die Justinianus die Martelaar se werk oor dwaallere, die Griek van Irenaeus se Teen dwaallere en Hippolitus se Syntagma.<ref.> Andrew Louth, 'Palestine', in Frances Young, Lewis Ayres en Andrew Young, reds, The Cambridge History of Early Christian Literature, (2010), 286</ref> Die Panarion is die eerste keer in 1987 en 1990 in Engels vertaal.

Ander werke