Sandvlei is 'n strandmeer in die suidoostelike punt van die Kaapse Vlakte in Suid-Afrika.
Ligging Die meer is by 34° 05′ suid, 18° 28′ oos en tussen Muizenberg, Lakeside, Westlake en Sheraton Park, met aan die oostekant die see en aan die suidekant die Steenberge. Aan die noordoostekant is die Marina da Gama. Hierdie vlei ontvang sy water van die Spaansematrivier, Prinskasteelrivier, Keysersrivier en die Dieprivier.
Natuurlewe ‘n Natuurreservaat van 200 ha is rondom die vlei ontwikkel. Leervis, steenbras en stompneus kom hier voor, en 166 voëlsoorte en 20 reptielspesies is hier waargeneem. Metterjare is die uitheemse en indringerplante uitgeroei en het die oorspronklike flora herstel. Op ou kaarte word Sandvlei as ‘n inham van Valsbaai aangedui, maar het mettertyd byna afgesluit geraak van die see. In die reënseisoen is die mond oop, maar in die somer word die uitvloei beheer.
Geskiedenis In 1795 het die Slag van Muizenberg hier plaasgevind. Die eerste regatta op Sandvlei was in Junie 1884 en 65 bote het toe deelgeneem. Later jare is die vlei tot 'n 2 m diep uitgebagger, dit is verdubbel tot 60 ha in omvang, kanale is geskep en die marina ontwikkel.
Lees ook Prinsesvlei Zeekoevlei
Bronnelys Burman, Jose: Safe to the Sea. Kaapstad: Human & Rousseau, 1962 Burman, Jose: The False Bay story. Kaapstad: Human & Rousseau, 1977. Slingsby, Peter: Exploring the Cape Peninsula. Muizenberg: Slingsby Maps, 2013.
Kategorie:Kaapstad Kategorie:Mere in Suid-Afrika