Die slag van Biddulphsberg is die geveg wat op 29 Mei 1900 in die Tweede Vryheidsoorlog plaasgevind het. Lt.-genl. sir Leslie Rundle se mag, bestaande uit die 2nd Grenadier Guards, 2nd Scots Guards en sommige IY Companies, het teen die Boeremag onder genl. Abraham de Villiers by Biddulphsberg naby Senekal te staan gekom. Die Britse mag is verslaan, met ongeveer 40 mans wat gesneuwel het en ongeveer 130 wat gewond is.

Die Boeremag was goed weggesteek en het op die Britte gewag toe Rundle se mag, voor dagbreek op 29 Mei, uit die rigting van Senekal opgeruk het. In die volgende paar uur het die Boere Rundle se manne groot verliese toegedien, wat vererger is deur ‘n kwaai veldbrand wat oor die Britse linies gewoed het.

Boereveterane het na die gebeure as die “veldbrandslag” verwys. H. Loots, "May 29, 1900 : Battle of Biddulphsberg," [Online]. Available: https://www.angloboerwar.com/forum/16-on-this-day/24767-may-29-1900-battle-of-biddulphsberg Besoek op 28 Augustus 2024

Geografie van die area links|duimnael|Geografiese voorstelling van Biddulphsberg Biddulphsberg is geleë tussen Bethlehem en Senekal. Dit is 'n 250 meter hoë heuwel, 13 kilometer oos van Senekal, soos die kraai vlieg. Biddulphsberg is 'n groot plat-top, ruitvormige berg, waar die noordwestelike punt 'n bult is. Dit staan 250 meter bo die vlakte. Die suidoostelike voorhoof van die berg kyk uit oor 'n lang uitloper van wisselende breedte. Dit lê aan die noordekant van die Senekal-Bethlehem-pad en aan die suidkant lê die plat koppie, Tafelkop.S. A. Watt, "THE SKIRMISH AT SENEKAL: THE BATTLE OF BIDDULPHSBERG, MAY 1900," Military History Journal Vol 8 No 6 - December 1991, [Online]. Available: https://www.samilitaryhistory.org/vol086sw.html Besoek op 28 Augustus 2024 duimnael|Kaart van Senekal in 1900

Senekal het, in 1900, uit ongeveer vyf-en-twintig geboue, insluitend 'n kerk, bestaan. Dit is geleë op 'n strook grond weswaarts van waar die Sandrivier was, en 'n steil uitloper, sewentig meter hoog, na die ooste (sien kaart).

Aanloop tot die Slag Vroeg in Mei 1900 is ‘n Britse mag van 11 000 man onder leiding van Luitenant-Generaal Sir Leslie H Rundle teen die Oos-Vrystaatse burgers in die veld ontplooi. Hulle opdrag was om die Boere in ‘n noordoostelike rigting terug te dryf sodat hulle nie weer suidwaarts kan deurbreek nie.

Nadat die Britse magte by Wepener en Ladybrand deurgebreek het, het die Vrystaatse kommando's na Ficksburg en Senekal teruggeval. Die Boeremagte op Senekal het hulle magte opgestel in die omgewing van Tafelkop, 6 kilometer oos van Senekal. Teen die aand van 24 Mei 1900 was die Britse bevelvoerder, Rundle, se hoofkwartier gestig op die plaas “Kopjeskraal”, omtrent 28 kilometer vanaf Senekal op die pad na Marquard. Die Boere, onder Genl. Abraham de Villiers, het geen weerstand teen die Britse opmars gebied nie en het stadig noordwaarts teruggetrek.

Vroeg die oggend van 25 Mei, het Rundle se mag vanaf “Kopjeskraal” na Senekal vertrek, met Generaal Barrington B Campbell se brigade vooraan, en ‘n halfdag se mars agter hom, Generaal J E Boyes se brigade. Majoor HS Dalbiac, met sestigtal manskappe, was vooruit gestuur om die nodige verkenningswerk te doen. Laasgenoemde was oorversekerd en onverskrokke en het hom hom op ‘n galop gehaas na Senekal waar hy ongeveer 10:00 arriveer het. Hy het sy manskappe beveel om te stop en alleen die dorp binnegery. Hy het Senekal oënskynlik vry van vyandige magte gevind en het dertig minute later na sy manskappe teruggekeer, waarna hulle almal deur die dorp gegaan het. Hy het dadelik vier buiteposte rondom die dorp gestig en die Vrystaatse vlag verwyder. Hierdie groepie Britte het toe begin om wapens te konfiskeer onder inwoners van Senekal. Hulle het ook burgers bymekaar gemaak wat vrywilliglik oorgegee het. Majoor Ashton, een van Rundle se stafoffisiere, het intussen arriveer en met hierdie taak gehelp.

Omstreeks 13:00 is die stilte skielik verbreek deur geweervuur vanaf Sandkop, die koppie reg agter Senekal, waar een van die Britse buiteposte ingerig was. Dit was voorafgegaan deur die opmars van twee groepe Boere, een vanaf 'n plaas na die ooste, direk na die uitloper, en die ander het langs die spruite na die suide gekruip. Toe Maj Dalbiac die nuus ontvang, het hy haastig ‘n paar manne bymekaar gemaak. Minder as dertig man het aangery, van wie twee tydens die bestyging van die koppie gewond is. Hulle het die koppie vanaf die suidekant uitgejaag. Hulle het agter die geluid van die geweervuur aangery en tot binne 100 meter van die Boere gekom, laasgenoemde het stellings ingeneem net onder die kruin van die uitloper. Die Boere het hierdie wagpos vanuit die noorde en suide bestorm en Dalbiac het reg in die kruisvuur van hierdie twee groepe ingejaag, met noodlottige gevolge. Wat hier gebeur het, was dat die Boere, oënskynlik, Senekal in ‘n noordelike rigting verlaat het, juis toe die Britte die dorp vanaf Marquard se rigting ingekom het. Net nadat die Britte mooi op hulle gemak was, het die Boere, oor die randjie van die huidige plaas “Jonkershof”, teruggekeer en hul stellings reg bokant die huidige kwekery, ingeneem.

Dalbiac was een van die eerstes wat doodgeskiet is, met ‘n skoot deur die nek, en drie ander Britte het ook kort daarna gesneuwel. Hy is gevind langs die vyfde paal van 'n telegraaflyn wat oor die uitloper gaan. Sersant FW Shells, wat saam met Dalbiac die uitloper bestyg het, is ook dood. Sy liggaam is langs die negende telegraafpaal gevind. Die res van die mans het op die grond gelê. Hulle het geen beskutting gehad, behalwe die kort gras, wat geen beskerming gebied het nie.

Nog mans is gewond. Manskap HS Deane, wat opgestaan ​​het om te mik, is op slag dood. Die Boere het 'n intense koeëlreën afgevuur en die Britse mag, wat boonop geweervuur ​​van hul regterkant begin ervaar het, het Boere na hul agterkant sien rondkruip. Die Britte was bo-op die gelykte van die kop terwyl die Boere agter rotse en klippe geskuil het. Oorgawe is eers ná heelwat bespreking oorweeg en kort daarna het dertien mans besluit om hul wapens neer te lê en is gevange geneem deur die Boere. Sersant-Majoor Roller en 6 manskappe, waarvan 1 gewond was, het egter daarin geslaag om te ontsnap en skuiling te vind agter ‘n klipheining van een van die huise aan die suid-westelike kant van die dorp, vanwaar hulle hulself vir ‘n uur verdedig het.

Die Boere het besluit om hulle nie agterna te sit nie en het eerder reëlings getref vir die Britse gewondes. Dié is in beheer van die dorpsdokter gelaat. ’n Ambulans het hulle na ’n hospitaal geneem wat in vredestyd as ‘n skoolhuis gebruik is.

Net nadat die Boere met hulle krygsgevangenis die koppie verlaat en vanaf die uitloper na die ooste teruggetrek het, het die artillerie van die Britse hoofmag opgedaag om Sandkop te bestook.  Intussen het die Britse buiteposte ten weste van die dorp daarin geslaag om ‘n boodskap by Rundle uit te kry. Hy het gereageer deur die artillerie vorentoe te stuur, maar die skote op die uitloper was ondoeltreffend. Dit was te laat, want die Boere het reeds in die rigting van Biddulphsberg teruggetrek.

Aan die Boere se kant was daar een ongeval. Veldkornet Johannes Nel, aanvoerder van die dapper groep Boere bo-op die kop, is per ongeluk deur een van sy eie manne doodgeskiet.

Na die skermutseling op Sandkop, was Rundle se hoofkwartier nou op Senekal gestasioneer met Maj-Gen Sir EY Brabant se hoofkwartier op Hammonia naby Wonderkop. Saam het hulle 'n linie gevorm vanaf Ficksburg in die suide, deur Hammonia en Klipdrif, tot by Senekal in die noorde. Die Boeremagte het gestrek vanaf Biddulphsberg, oor Witnek, tussen Paul Roux en Rosendal. Intussen het die Britse Luitenant-Kolonel BE Spragge wat, verder noord van Senekal, die Boere moes beveg, naby Lindley hom teen Generaal Piet de Wet se magte vasgeloop. Spragge het by Rundle om hulp aangeklop. Rundle was egter nie bereid om die 50 kilometer na Lindley te mars en daardeur ook sy eie posisie in gevaar te stel nie. Hy het hierdie besluit van hom na Brabant getelegrafeer en het, onder andere, ook gesê dat hy egter bereid was om 'n magsvertoning noord van Biddulphsberg te lewer, ten einde so die aandag van die Lindley-boere te verdeel. Hierdie telegram is deur die Boere onderskep en hulle was dus ten volle op hoogte van Rundle se besluit.G. o. g. d. C. Human, "Anglo-Boereoorlog Dia Slag van Biddulphsberg," [Online]. Available: https://web.archive.org/web/20190108201138/http://www.biddulphsberg.com/anglo-boer-war-bull-anglo-boere-oorlog.html. Besoek op 1 September 2024

Posisionering/ontplooiing van die Boere en die Britte Generaal Abraham de Villiers en sy krygsraad het die hoofmag as volg ontplooi:

Die hoofkwartier was aan die noordoostelike kant van die berg naby die huis van JS Erasmus Daar was manskappe reg om die noordelike punt van die berg tot by die noordwestelike voet van die berg Veldkornet Meyer, van die Ladybrand kommando, is met sy manne reg in die pad na Bethlehem, aan die suidekant van Biddulphsberg geplaas Veldkornet Pieter Ferreira se 31 burgers met 2 korporaals, naamlik Petrus Rautenbach en Gert Delport, is ongeveer 1 000 treë noord van die berg in 'n brakslootjie versteek Kommandant I Jacobs ,met 60 man, aan die voet van Platkop suidoos van Biddulphsberg Veldkornet Van Rooyen was met sy manskappe ook suid van die berg, maar aan die noordelike kant van die pad na Bethlehem Laastens was veldkornet PA Froneman naby Tafelkop geplaas om daardie flank te beveilig.

Die Boere-kanonne is as volg aangewend:

Een Krupp kanon van 75 mm was agter die kraalmuur op die werf van Mnr JS Erasmus en onder bevel van kaptein JJ Smith. Die Maxim Nordenfeld kanon moes in dieselfde omgewing sy stelling gehad het, want Adj JN Brink het geskryf: "'n Ander kanon is 'n entjie links geplaas". Volgens 'n ou swartman wat by Cilliers Human en DJ Erasmus gewerk het, was daar ook 'n kanon op "Oupos", aan die voet van die kop, ongeveer 5 kilometer oos van Biddulphsberg. Hierdie posisie is ook bevestig deur heelwat ronde liddietkoeëls wat daar opgetel is. Daar was ook 'n kanon toegesê aan Kmdt I Jacobs wat met sy 60 burgers aan die voet van Platkop stelling gehad het.

Aanvalsgebeure Op Maandag, 28 Mei 1900, het Rundle met ongeveer 4000 man, bestaande uit 'n infanteriebrigade, twee batterye artillerie en 'n paar berede troepe, Senekal verlaat en in 'n oostelike rigting getrek tot tussen Sandspruit en Quarriekop. Die kampeerterrein, 7 kilometer van die Sandspruit af en aan die westekant van Quarriekop, is teen die nag bereik en die troepe het in die donker gaan sit. Die nag was bitter koud en die klipperige grond het die troepe min kans op 'n goeie nagrus gebied. Met geen oorjas en slegs een kombers elk, was hierdie bedekking nie genoeg om hulle teen die koue te beskerm nie.

Die Boere het die situasie evaluaeer en was oortuig dat Rundle die noordelike roete om Biddulphsberg na Bethlehem sou gebruik. Hulle het hul besluit geneem op grond van die volgende:

Gedagtig aan die telegram wat hulle onderskep het, het hulle besluit dat die Engelse hierdie roete sou gebruik, wat nader aan Lindley sou verbygaan, ook om moontlik later hulp aan Spragge te kon verleen Rundle sou die reguit pad na Bethlehem vermy omdat hierdie pad wat tussen Biddulphsberg en Platkop strek aan weerskante 'n diep sloot en twee koppe bevat het waar sy magte dus in 'n hinderlaag oorval kon word. Die reguit pad kon egter nie oor die hoof gesien word nie, en daar is dus ook Boeremagte ontplooi.

Die Imperial Yeomanry en Driscoll's Scouts het Biddulphsberg gaan verken. Hulle het beide geweer- en artillerievuur teëgekom. By 'n plaashuis aan die noordoostekant van die berg het hul ‘n wit vlag sien wapper, en twee mans van die Driscoll's Scouts is uitgestuur om vas te stel of enige Boere daar wou oorgee. Toe hulle die plaas nader, het die Boere losgebrand en een verkenner doodgemaak en die ander ernstig gewond. Laasgenoemde is na die plaasopstal geneem waar hy versorg is.