Die Wonderboom by Willowmore is ‘n natuurfrats.
Ligging Hierdie besondere boom is by 33° 12′ 50″ suid, 23° 27′ 55″ oos en 12 km van Willowmore op die N9-nasionale pad aan die linkerkant van die pad in die rigting van Aberdeen.
Bome Daar is twee bome, naamlik die gewone ghwarrie (Euclea undulata) en die Karoowitgat (Boscia oleoides). Laasgenoemde staan in Engels bekend as die Karoo shepherd’s tree. Hierdie besondere Karoowitgat het drie stamme wat uit die grond kom. Twee van die stamme het versmelt en vorm ‘n oog in die gesamentlike stam. Die derde stam het deur hierdie oog gegroei. En die doel van die ghwarrie is bloot om die witgatte geselskap te hou.
Eintlik is die gewone ghwarrie sowel as die Karoowitgat struike. Bokke vind die blare van die struike lekker en daarom het hierdie bome groter en sambreelvormig gegroei en daardeur het die unieke verskynsel sigbaar geword.
Die wonder is ontdek toe die pad vroeg in die 20ste eeu gebou is. Toe was die bome al volgroei en kan weens die langsame groeitempo nou al ‘n paar honderd jaar oud wees. In onlangse jare is hulle omhein om hulle teen vandalisme en bokke te beskerm.
Verwysings
Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Oos-Kaap