Kroniese obstruktiewe longsiekte of KOLS (Engels: Chronic obstructive pulmonary disease of COPD) is 'n soort progressiewe longsiekte gekenmerk deur kroniese respiratoriese simptome en lugvloeibeperking. Die Global Initiative for Chronic Obstructive Lung Disease het KOLS in 2024 gedefinieer as 'n heterogene longtoestand wat gekenmerk word deur kroniese respiratoriese simptome (kortasemigheid, hoes, slymvervaardiging en/of die verergering van die siekte) as gevolg van afwykings van die lugweë (brongitis, brongiolitis) en/of alveolusse (emfiseem) wat aanhoudende, dikwels progressiewe, lugvloei-obstruksie veroorsaak. Dit kan ook chroniese obstruktiewe longsiekte of COLS gespel word.

Die hoofsimptome van KOLS sluit in kortasemigheid en 'n hoes, wat slym kan produseer. Die siekte vererger geleidelik, met alledaagse aktiwiteite soos stap of aantrek wat moeiliker word. Hoewel dit ongeneeslik is, is dit voorkombaar en behandelbaar.

Die twee mees algemene soorte KOLS is emfiseem en kroniese brongitis, en dit was die twee klassieke KOLS-fenotipes. Dié basiese dogma is egter bevraagteken, aangesien wisselende grade van saamvoorkomende emfiseem, kroniese brongitis en potensieel beduidende vaskulêre siektes almal erken is by mense met KOLS, wat aanleiding gegee het tot die klassifikasie van ander fenotipes of subtipes.

Emfiseem word gedefinieer as vergrote lugruimtes (alveolusse) waarvan die wande afgebreek het, wat tot permanente skade aan die longweefsel lei. Kroniese brongitis word gedefinieer as ’n produktiewe hoes wat minstens drie maande van elke jaar oor twee jaar aanwesig is. Albei dié toestande kan bestaan sonder lugvloeibeperking wanneer dit nie as KOLS geklassifiseer word nie. Emfiseem is slegs een van die strukturele afwykings wat lugvloei kan beperk en kan by ’n beduidende aantal mense bestaan sonder lugvloeibeperking. Kroniese brongitis lei ook nie altyd tot lugvloeibeperking nie. By jong volwassenes met kroniese brongitis wat rook, is die risiko om KOLS te ontwikkel egter hoog. Baie definisies van KOLS in die verlede het emfiseem en kroniese brongitis ingesluit, maar dit is nog nooit in definisies van die GOLD-verslag ingesluit nie. Kols en asma kan by sommige individue saam bestaan en na mekaar toe konvergeer. Kols word geassosieer met laegraadse sistemiese inflammasie.

Die mees algemene oorsaak van KOLS is tabakrook. Ander risikofaktore sluit binnens- en buitenshuise lugbesoedeling in, insluitend stof, blootstelling aan beroepsirritante soos stof van grane, kadmiumstof of -dampe en genetika, soos 'n alfa-1-antitripsientekort.

In ontwikkelende lande is algemene bronne van huishoudelike lugbesoedeling die gebruik van steenkool en biomassa soos hout en droë mis as brandstof vir kook en verhitting.

Die meeste gevalle van KOLS kan voorkom word deur blootstelling aan risikofaktore soos rook en binnens- en buitenshuise lugbesoedelstowwe te verminder. Hoewel behandeling die verergering kan vertraag, is daar geen afdoende bewyse dat enige medikasie die langtermyn-agteruitgang in longfunksie kan verander nie. Kolsbehandelings sluit in ophou rook, inentings, pulmonêre rehabilitasie, brongodilatore en kortikosteroïede in. Sommige mense kan baat vind by langtermyn-suurstofterapie, longvolumevermindering en longoorplantings. By diegene wat periodes van akute verergering van die siekte ervaar, kan verhoogde gebruik van medikasie, antibiotika, kortikosteroïede en hospitalisasie nodig wees.

Teen 2021 het KOLS ongeveer 213 miljoen mense geraak (2,7% van die wêreldbevolking). Dit kom gewoonlik voor by mans en vroue ouer as 35-40 jaar. In 2021 het KOLS 3,65 miljoen sterftes veroorsaak. Byna 90% van KOLS-sterftes by persone jonger as 70 jaar kom in lae- en middelinkomstelande voor. In 2021 was dit die vierde grootste oorsaak van die dood, verantwoordelik vir ongeveer 5% van alle sterftes. Die aantal sterftes sal na verwagting verder toeneem weens voortgesette blootstelling aan risikofaktore en ’n verouderende bevolking. In die VSA is die koste van die siekte in 2010 op $50 miljard geraam, waarvan die meeste aan verergerings toegeskryf word.

Tekens en simptome thumb|links|220px|Die simptome. Kortasemigheid ’n Kardinale simptoom van KOLS is die kroniese en progressiewe kortasemigheid wat die kenmerkendste eienskap van die toestand is. Kortasemigheid (asemnood) is dikwels die ontstellendste simptoom en is verantwoordelik vir die gepaardgaande angs en mate van gestremdheid wat ervaar word. Simptome van hygende asemhaling en benoudheid op die bors wat met asemnood gepaardgaan, kan oor die verloop van ’n dag of tussen dae wissel en is nie altyd teenwoordig nie. Borsbenoudheid volg dikwels op inspanning.

Baie mense met meer gevorderde KOLS haal deur getuite lippe asem, wat kortasemigheid kan verbeter. Kortasemigheid is dikwels verantwoordelik vir verminderde fisieke aktiwiteit, en lae vlakke van fisieke aktiwiteit word met swakker uitkomste verbind. In ernstige en baie ernstige gevalle kan daar voortdurende moegheid, gewigsverlies, spierverlies en anoreksie wees. Mense met KOLS het dikwels toenemende asemnood en gereelde verkoues voordat hulle behandeling soek.

Hoes Die algemeenste eerste simptoom van KOLS is ’n kroniese hoes, wat soms slym produseer. Slym wat opgehoes word, kan na gelang van sosiale of kulturele faktore, ingesluk of uitgespoeg word; dit is daarom nie altyd maklik om te evalueer nie. ’n Produktiewe (nat) hoes word egter slegs in tot 30% van gevalle gesien. Soms kan beperkte lugvloei ontwikkel in die afwesigheid van ’n hoes. Simptome is gewoonlik erger in die oggend.

’n Chroniese produktiewe hoes is die gevolg van die afskeiding van slym, en as dit minstens twee jaar vir langer as drie maande per jaar aanhou, word dit as chroniese brongitis gedefinieer. Chroniese brongitis kan voorkom voordat die beperkte lugvloei ontwikkel wat diagnosties van KOLS is. Sommige mense met KOLS skryf die simptome aan die gevolge van rook toe. In ernstige KOLS kan kragtige hoes lei tot ribbreuke of ’n kortstondige verlies van bewussyn.

Verergerings Akute verergerings in die siekte kan skielik voorkom en verskeie dae lank aanhou. Die kernsimptoom is toenemende kortasemigheid; ander simptome sluit oormatige slym, verergerde hoes en hyg in. ’n Algemene teken is lugvasvanging, wat dit moeilik maak om volledig uit te asem. Die gewone oorsaak van ’n verergering is ’n virusinfeksie, meestal verkoue. Die verkoue word gewoonlik met die wintermaande verbind, maar kan enige tyd voorkom. Ander boonstelugweginfeksies kan bakterieel wees of soms in kombinasie, sekondêr tot ’n virusinfeksie, voorkom.

Die algemeenste bakteriële infeksie word veroorsaak deur Haemophilus influenzae. Ander risiko’s sluit blootstelling aan tabakrook (aktief én passief) en omgewingspartikels (binnens- én buitenshuis) in. Tydens die Covid-19-pandemie het hospitaalopnames vir KOLS-verergerings skerp afgeneem, wat moontlik aan ’n vermindering in emissies en skoner lug toegeskryf kan word. Daar was in dié tyd ook ’n beduidende afname in die aantal verkoue- en griepinfeksies.

Rook van veldbrande blyk ’n toenemende risiko in baie dele van die wêreld te wees en regeringsagentskappe publiseer dikwels beskermende advies op hulle webtuistes. In die VSA word aanbeveel die gebruik van stofmaskers bied nie beskerming teen die fyn deeltjies in veldbrande nie en dat goedpassende "partikulaatmaskers" eerder gebruik word. Dieselfde advies word in Kanada en Australië gegee.

Die getal verergerings word nie met enige stadium van die siekte verbind nie; dié met twee of meer per jaar word as "gereelde verergerings" geklassifiseer en met ’n vinniger siektevordering verbind. Kwesbaarheid wat met veroudering verband hou, verhoog verergerings en hospitalisasie. Akute verergerings by KOLS is dikwels onverklaarbaar en word vermoedelik deur baie ander oorsake as infeksies veroorsaak. ’n Studie het die moontlikheid beklemtoon dat ’n longembolisme soms in dié gevalle verantwoordelik kan wees. Sulke embolismes kan op stollingsteenmiddels reageer.

Ander toestande thumb|200px|'n X-straalfoto van longe met ernstige KOLS. KOLS kom dikwels saam met verskeie onderliggende toestande (komorbiditeite) voor, deels weens gedeelde risikofaktore. Algemene komorbiditeite sluit in kardiovaskulêre siekte, disfunksie van die skeletspiere, metaboliese sindroom, osteoporose, depressie, angs, asma en longkanker. Alfa-1-antitripsientekort (A1AT) is ’n belangrike risikofaktor vir KOLS. Daar word aanbeveel dat alle mense met KOLS vir A1AT gesif word.

Metaboliese sindroom is waargeneem by tot 50% van mense met KOLS en beïnvloed die uitkomste beduidend. As dit saam met KOLS voorkom, is daar meer sistemiese inflammasie. Dit is nie bekend of dit saam met KOLS bestaan en of dit as gevolg van die patologie ontwikkel nie. Metaboliese sindroom op sigself het ’n hoë koers van sieklikheid en sterfte, en dié koers word verhoog wanneer dit saam met KOLS voorkom.

Tuberkulose is ’n risikofaktor vir die ontwikkeling van KOLS en is ook ’n moontlike komorbiditeit. Die meeste mense met KOLS sterf aan komorbiditeite en nie aan respiratoriese probleme nie. Angs en depressie is dikwels komplikasies van KOLS. Ander komplikasies sluit in ’n afname in lewensgehalte en verhoogde gestremdheid, gereelde borsinfeksies (insluitend longontsteking), sekondêre polisitemie, asemhalingsversaking, pneumotoraks, longkanker en kakeksie (spiervermorsing).

Saam met dié komplikasies is daar ’n gepaardgaande risiko om pulmonale hipertensie te ontwikkel. Die geskatte voorkoms van pulmonale hipertensie wat KOLS kompliseer, is in ’n meta-analise op 39% gerapporteer. Van die mense met KOLS wat vir longoorplantings gelys is, het 82% pulmonale hipertensie. Alhoewel pulmonale hipertensie relatief skaars is by mense met KOLS, kan ligte verhogings in pulmonale arteriële druk tot swakker uitkomste lei, insluitend ’n verhoogde risiko van sterfte.

Kognitiewe inkorting is algemeen by mense met KOLS, soos ook by ander longtoestande wat lugvloei aantas. Kognitiewe inkorting word verbind met ’n afnemende vermoë om basiese aktiwiteite te hanteer.

Dit is onduidelik of mense met KOLS ’n groter risiko het om Covid-19 op te doen, hoewel hulle, indien besmet, ’n risiko het vir hospitalisasie en die ontwikkeling van ernstige Covid-19. Laboratorium- en kliniese studies toon egter die moontlikheid dat sekere ingeasemde kortikosteroïede vir KOLS ’n beskermende rol teen Covid-19 kan speel.

Definisie Baie definisies van KOLS het in die verlede kroniese brongitis en emfiseem ingesluit, maar dit is nog nooit in definisies van die GOLD-verslag opgeneem nie. Emfiseem word gedefinieer as vergrote lugruimtes (alveolusse) waarvan die wande afbreek en is slegs een van die strukturele abnormaliteite wat lugvloei kan beperk. Die toestand kan bestaan sonder lugvloeibeperking, maar het dit gewoonlik. Kroniese brongitis word gedefinieer as ’n produktiewe (nat) hoes wat oor twee jaar vir minstens drie maande van die jaar aanwesig is, maar dit lei nie altyd tot lugvloeibeperking nie, hoewel die risiko om KOLS te ontwikkel groot is.

Dié ouer definisies het die twee tipes as "tipe A" en "tipe B" groepeer. Later is besef die meeste mense met KOLS het ’n kombinasie van beide emfiseem en lugwegsiekte. Dit word nou erken as die twee hooffenotipes van KOLS.

Oorsaak