Die Requiemmis in D-mineur, KV 626, is 'n requiemmis (of dodemis) deur Wolfgang Amadeus Mozart (1756–1791). Mozart het laat in 1791 'n groot gedeelte van die requiemmis in Wene gekomponeer, maar dit was met sy dood op 5 Desember van dieselfde jaar steeds onvoltooid. 'n Voltooide weergawe deur Franz Xaver Süssmayr is in 1792 aan graaf Franz von Walsegg-Stuppach gelewer, wat die opdrag aan Mozart gegee het vir 'n requiemmis op 14 Februarie 1792 om die eerste herdenking van die dood van sy vrou Anna (sy was 20 jaar oud) te gedenk.
Die outograafmanuskrip toon die voltooide en georkestreerde Introïtus (of intreegeang) in Mozart se handskrif; so ook gedetailleerde konsepte vir die Kyrie en die sekwent Dies irae tot by die eerste agt mate van die "Lacrymosa"-gedeelte, asook die Offertorium. Daar kan nie bepaal word in watter mate Süssmayr vir die res van die werk op die nou verlore "brokkies papier"Mozart se weduwee, Constanze Mozart, het na Mozart se "Trümmer" en "Zettelchen" verwys: stukkies papier waarop hy temas en kort aantekeninge gemaak het. afhanklik was nie; hy het die Sanctus en Benedictus, en die Agnus Dei later as sy eie komposisies voorgehou.
Walsegg was waarskynlik van plan om die requiemmis as sy eie komposisie voor te hou, soos wat hy inderdaad met ander werke gedoen het. Hierdie plan is in die wiele gery deur 'n openbare fondsuitvoering ten bate van Mozart se weduwee Constanze. Sy was verantwoordelik vir 'n aantal mites rondom die komposisie van die werk, insluitend die bewerings dat Mozart die opdrag van 'n geheimsinnige boodskapper ontvang het wat nie die opdraggewer se identiteit bekend wou maak nie; ook dat Mozart begin glo het dat hy die requiemmis vir sy eie begrafnis gekomponeer het.
Benewens die Süssmayr-weergawe is 'n aantal alternatiewe voltooiings in die 20ste en 21ste eeu deur komponiste en musikoloë voorberei.
Besetting Die requiemmis is gekomponeer vir 2 bassethorings in F, 2 fagotte, 2 trompette in D, 3 trombone (alt, tenoor en bas), keteltromme (2 tromme), viole, altviool en basso continuo (tjello, basviool en orrel). Die bassethoringpartye word soms deur klarinette gespeel, hoewel dit die toonkleur redelik verander.
Die vokale partye bestaan uit 'n sopraan-, alt-, tenoor- en bassolis, en 'n gemengde SATB-koor.
Struktuur Süssmayr se voltooiing verdeel die requiemmis in agt afdelings:
1. Introïtus
Requiem aeternam
2. Kyrie
3. Sekwent
Dies irae Tuba mirum Rex tremendae maiestatis Recordare Jesu pie Confutatis maledictis Lacrymosa
4. Offertorium
Domine Jesu Christi Hostias
5. Sanctus
6. Benedictus
7. Agnus Dei
8. Kommunie
Lux aeterna Cum sanctis tuis
Geen gedeelte ná die Hostias (dus die Sanctus, Beneductus, Agnus Dei en Kommunie) kom in Mozart se handskrif voor nie. Mozart het moontlik bedoel om 'n Amen-fuga aan die einde van die sekwent (dus ná die Lacrymosa) in te sluit, maar Süssmayr het dit by sy voltooiing uitgesluit.
Die volgende tabel toon vir die agt afdelings in Süssmayr se voltooiing met hul onderafdelings: +GedeelteIncipitStempartyeTempoToonsoortMetrum1. Introïtus Requiem aeternamSopraansolo en koor AdagioD-mineur4/42. KyrieKyrie eleisonKoorAllegroD-mineur4/43. SekwentDies iraeKoorAllegro assaiD-mineur4/4Tuba mirumSolisteAndanteB-mol-majeur2/2Rex tremendaeKoorGraveG-mineur – D-mineur4/4RecordareSolisteAndanteF-majeur3/4ConfutatisKoorAndanteA-mineur – F-majeur4/4LacrymosaKoorLarghettoD-mineur12/84. Offertorium Domine JesuSoliste en koorAndanteG-mineur4/4HostiasKoorLarghetto – AndanteE-mol-majeur – G-mineur3/4 – 4/4 5. SanctusSanctusKoorAdagioD-majeur4/4HosannaKoorAllegroD-majeur3/46. BenedictusBenedictusSolisteAndanteB-mol-majeur4/4HosannaKoorAllegroB-mol-majeur3/47. Agnus DeiAgnus DeiKoorLarghettoD-mineur – B-mol-majeur3/48. KommunieLux aeternaSopraansolo en koorAdagioB-mol-majeur – D-mineur4/4Cum sanctisKoorAllegro
Die musiek Die requiemmis begin met 'n sewemaat- instrumentale inleiding, waarin die houtblasers (eers fagotte, dan bassethorings) die hooftema van die werk in nabootsende kontrapunt aanbied. Die eerste vyf mate van hierdie gedeelte (sonder die begeleiding) word hieronder getoon.
senter|duimnael|638x638px|Die eerste sewe mate van die Introïtus uit Mozart se Requiem (reduksie)Hierdie tema is grootliks gebaseer op Handel se The ways of Zion do mourn, HWV 264. Baie dele van die requiemmis verwys na hierdie gedeelte, veral in die koloratuur in die Kyrie-fuga en in die slot van die Lacrymosa.
Die trombone kondig dan die intrede van die koor aan, wat in die tema inlui, die basse alleen in die eerste maat, gevolg deur die ander stemme (van tenoor op) wat die basse naboots. Die harmonieë bestaan uit gesinkopeerde en verspringende strukture in die begeleiding, wat die plegtige en bestendige aard van die musiek bevestig. 'n Sopraansolo sing die "Te decet hymnus"-teks in die tonus peregrinus. Die koor gaan voort en herhaal die psalmtoon wanneer dit die "Exaudi orationem meam"-gedeelte sing.Wolff, C. 1994. Mozart's Requiem: Historical and analytical studies, documents, score. Vertaal deur Mary Whittal. Berkeley: University of California Press, bl. 105. Dan word die hooftema deur die koor en die orkes in afwaarts glyende sestiendenote weergegee. Die verloop van die melodieë verander en vervleg onderling, terwyl passasies in kontrapunt en eenstemmig (bv. "Et lux perpetua") mekaar afwissel; dit alles dra by tot die sjarme van hierdie beweging, wat eindig met 'n halwe kadens op die dominant.
2. Kyrie Die Kyrie volg sonder pouse (attacca). Dit is 'n dubbele fuga op die beroemde tema van die kruis – deur die vier note te koppel, word die vorm van die kruis getoon, 'n tema wat deur baie komponiste gebruik word, byvoorbeeld Bach, Handel en Haydn. Die kontratema kom uit die finale koor van Handel se Dettingen Anthem, HWV 265. Die eerste drie mate van die alte en basse word hieronder getoon: senter|duimnael|755x755px|Die eerste mate van die Kyrie. Die basse lei die hootema in, met die alte wat die kontratema inlui.
Die kontrapuntale motiewe van die tema van die fuga sluit variasies op die twee temas van die Introïtus in. Aanvanklik word opwaartse diatoniese reekse van sestiendenote vervang deur chromatiese reekse, 'n effek wat die intensiteit vergroot. Hierdie gedeelte is effens veeleisend vir die boonste stemme, veral vir die soprane. 'n Laaste gedeelte in 'n stadiger (Adagio-)tempo eindig op 'n oop vyfde (die noot wat die majeur of mineur bepaal, word weggelaat), 'n konstruksie wat gedurende die Klassieke tydperk argaïes geword het en wat aan die stuk 'n antieke atmosfeer verleen.
3. Sekwent Die sekwent is 'n toonsetting van die Latynse gedig Dies irae, wat óf aan Thomas van Selano van die die Fransiskane (1200–1265) toegeskryf word, óf aan Latino Malabranca Orsini (oorlede in 1294), lektor aan die Dominican studium in Santa Sabina, die voorloper van die Pouslike Universiteit van Sint Thomas van Aquinas in Rome.Crociani, G. 1901. Scritti vari di Filologia [in Latyn]. Rome: Forzani & c., bl. 488.
a. Dies irae Die sekwent open met groot orkes- en koorvertoon: tremolo's deur die strykers, en gesinkopeerde figure en herhalende akkoorde deur die koperblasers. 'n Stygende chromatiese geskarrel van sestiendenote lei tot 'n chromaties stygende harmoniese progressie met die koor wat sing: "Quantus tremor est futurus" (Afrikaans: Wat bewing sal daar nie wees nie, met verwysing na die Laaste Oordeel). Hierdie materiaal word herhaal met harmoniese ontwikkeling voordat die tekstuur skielik verdun tot 'n bewende figuur, steeds met tremolo's deur die strykers, wat die "Quantus tremor"-teks op evokatiewe wyse skilder.
b. Tuba mirum Mozart se tekstuele inspirasie kom weer na vore in die Tuba mirum-beweging. Dit word ingelei deur 'n figuur in B-mol-majeur deur die solotenoortromboon (sonder begeleiding).Die Latynse woord tuba word gewoonlik in Duits vertaal met Posaune, wat 'n tromboon is. Vandaar Mozart se gebruik van die tromboon hier. Twee mate later boots die bassolis hierdie figuur na. By maat 7 kom daar 'n fermata voor; dit is die enigste plek in die hele werk waar 'n solokadens voorkom. Die laaste kwartnote van die bassolis lui die intrede van die tenoor in, gevolg deur die alt en daarna die sopraan op dramatiese wyse.
Op die teks "cum vix justus sit securus" word daar oorgeskakel na 'n homofone segment wat gelyktydig deur die kwartet gesing word: Die cum en vix word sonder enige begeleiding op die "sterk" (1ste en 3de) maatslae geartikuleer, daarna op die "swak" (2de en 4de) maatslae, terwyl die viole en continuo elke keer daarop reageer. Hierdie "onderbreking" (wat 'n mens sou kon interpreteer as die onderbreking wat die Laaste Oordeel voorafgaan) word eers sotto voce, dan forte en uiteindelik piano gehoor. Die beweging kom uiteindelik in 'n crescendo en 'n perfekte kadens tot 'n einde.
c. Rex tremendae 'n Dalende melodie wat uit gepunteerde note bestaan, word deur die orkes gespeel om die aankoms van die koning van
'n Dalende melodie wat uit gepunteerde note bestaan, word deur die orkes gespeel om die aankoms van die koning van ontsagwekkende majesteit ("Rex tremendae majestatis"), d.w.s. God. Die koor roep uit na Hom ("Rex! Rex!") tussenin dié orkestrale figure. Dit is verrassend dat die woord "Rex" elke keer op die tweede maatslag van elke maat val, hoewel dit as die "swak" maatslag beskou word. Daarna neem die koor die gepunteerde motief van die orkes oor. Wolff noem dié motief die Barokmusiek se vorm van topos vir die eerbetoon van die vors.Wolff, C. 2003. Mozarts Requiem. Geschichte, Musik, Dokumente. Mit Studienpartitur [in Duits]. Vierde uitgawe. Kassel: Bärenreiter. In eenvoudiger taal is dié musiekstyl 'n standaardvorm om aan die koninklikes (of in hierdie geval die Goddelike) hulde te bring. Hoewel dié beweging uit slegs 22 mates bestaan, is dit ryk aan variasie: Homofonie en kontrapuntale koorpassassies word verskeie kere met mekaar afgewissel, en die beweging eindig op 'n bykans onbegeleide koorkadens, weer eens op 'n oop D-akkoord (soos die Kyrie).
Met 130 mate is die Recordare die werk se langste beweging, wat sewe strofes van die Dies irae-teks beslaan. Dit is ook die eerste in drievoudige tyd (3/3). Die vorm van hierdie stuk stem ietwat ooreen met sonatevorm, met ’n eksposisie rondom twee temas (mates 1–37), ’n ontwikkeling van twee temas (mates 38–92) en ’n rekapitulasie (mates 93–98).
In die eerste 13 mate is die bassethorings die eerste om die eerste tema aan te bied, duidelik geïnspireer deur Wilhelm Friedemann Bach se Sinfonia in D-mineur.Sien Wolff 1998, bl. 80–82. Die tema word verryk deur 'n manjifieke kontrapunt wat dwarsdeur die beweging deur die tjello's in dalende toonlere herhaal word. Die kontrapunt van die eerste tema verleng die orkesinleiding met akkoorde, wat herinner aan die begin van die werk (die Introïtus) en sy ritmiese en melodiese verskuiwings (die eerste bassethoring begin 'n maat ná die tweede, maar 'n toon hoër; die eerste viole is eweneens gesinchroniseer, met die tweede viole maar 'n kwartnoot later; en dies meer). Ná die inleiding val die vokale soliste in; die eerste tema word deur die alt en bas gesing (vanaf maat 14), gevolg deur die sopraan en tenoor (vanaf maat 20). Elke keer word die tema afgesluit met 'n hemiool (maat 18–19 en 24–25). Die tweede tema begin met "Ne me perdas", waarin die begeleiding kontrasteer met dié van die eerste tema: Pleks van dalende toonlere is die begeleiding tot herhalende akkoorde beperk. Hierdie uiteensetting word afgesluit met vier orkesmate wat op die teenmelodie van die eerste tema (mm. 34–37) gebaseer is.