Mary Edwards Walker (26 November 1832 – 21 Februarie 1919), algemeen bekend as dr. Mary Walker, was 'n Amerikaanse afskaffer, prohibisionis, krygsgevangene en chirurg. Sy is die enigste vrou wat 'n Amerikaanse Medal of Honor ontvang het.
Walker het in 1855 haar mediese graad by die Syracuse Mediese Kollege in New York verwerf, is getroud en het sy 'n mediese praktyk op die been gebring. Sy het probeer om by die Union Army aan die begin van die Amerikaanse Burgeroorlog aan te sluit, maar is afgewys. Sy het as 'n chirurg by die tydelike hospitaal in Washington, D.C. gewerk voor sy deur die Union Forces aangestel is en tot die Weermag van die Cumberland en later die 52ste Ohio Infanterie toegewys is, wat haar die eerste vroulike chirurg in die Amerikaanse Weermag gemaak het. Sy is as 'n spioen deur Konfederale Magte gevange geneem nadat sy vyandelike grense oorgesteek het om gewonde burgerlikes te behandel. Daarna is sy as 'n krygsgevangene na Richmond, Virginië gestuur totdat sy in 'n gevangene-uitruiling vrygelaat is.
Ná die oorlog is sy goedgekeur om 'n Medal of Honor te ontvang vir haar pogings om gewondes in die oorlog te behandel en vyandsgrense gedurende die Burgeroorlog oor te steek. Die toekenning is veral nie uitdruklik vir dapperheid in daardie tyd toegeken nie en was in werklikheid die enigste militêre toekenning tydens die Burgeroorlog. Walker is die enigste vrou wat die medalje ontvang het en een van slegs agt burgerlikes. Haar naam is in 1917 van die Weermag se Medal of Honor-rol (saam met meer as 900 ander ontvangers) verwyder; dit is egter in 1977 weer herstel. Ná die oorlog was sy 'n skrywer en dosent wat die vrouestemregbeweging tot haar dood in 1919 ondersteun het.
Kinderjare en onderrig Mary Edwards Walker is in die dorp Oswego, New York, op 26 November 1832 gebore as die jongste dogter van Alvah (vader) en Vesta (moeder) Walker. Sy was die jongste van sewe kinders: ses dogters en een seun. Alvah en Vesta het beide hul seun en hul dogters op 'n progressiewe manier grootgemaak wat revolusionêr was vir hul tyd. Hul nie-tradisionele ouerskap het Mary se gees van onafhanklikheid en sin vir geregtigheid gekweek en sy het dit regdeur haar lewe aktief gedemonstreer. Alhoewel hulle toegewyde Christene was, was die Walkers vrydenkers wat hul kinders grootgemaak het om voorskrifte en die beperkings van verskillende denominasies te bevraagteken. Die Walker-ouers het ook nie-tradisionele genderrolle aan hul kinders geïllustreer deur die werk op die plaas te deel: Vesta het dikwels aan swaar handearbeid deelgeneem, terwyl Alvah met die algemene huishoudelike take gehelp het. Walker het as kind op die familieplaas gewerk. Sy het nie damesklere gedra wanneer hulle plaasarbeid moes doen nie, omdat sy dit as te beperkend ervaar het. Haar ma het haar siening dat korsette en stywe rygbande ongesond was, versterk.
Haar primêre onderrig het bestaan uit bywoning van 'n plaaslike skool wat haar ouers begin het. Die Walkers was vasberade dat hul dogters so goed opgevoed soos hul seun moet wees, daarom het hulle in die laat 1830's die eerste gratis skoolhuis in Oswego begin. Ná laerskool het Mary en twee van haar ouer susters Falley Seminarie in Fulton, Oswego County, New York bygewoon. Falley was nie net 'n hoëronderwysinstelling nie, maar 'n plek wat klem op die moderne sosiale hervorming van genderrolle, opvoeding en higiëne geplaas het. Die skool se ideologieë en praktyke het Mary se vasberadenheid om tradisionele vroulike standaarde op die beginsel van onreg te weerstaan, verder gevestig. In haar vrye tyd het Mary haarself in haar pa se mediese tekste oor anatomie en fisiologie begewe; haar belangstelling in medisyne kan toegedra word aan haar blootstelling aan mediese letterkunde op 'n jong ouderdom. As 'n jong vrou het sy skoolgehou in Minetto, New York, en uiteindelik genoeg geld verdien om vir haar studies by Syracuse Mediese Kollege te betaal waar sy in 1855 met 'n Honneursgraad as mediese dokter – die enigste vrou in haar klas – gekwalifiseer het.
Sy is op 16 November 1855, kort voor haar 23ste verjaarsdag, met 'n medeklasmaat, die mediese student Albert Miller, getroud. Walker het 'n kort romp met 'n broek daaronder gedra en geweier om die woord "gehoorsaam" by haar troubeloftes in te sluit. Sy het ook haar van behou, alles kenmerkend van haar hardnekkige nie-konformiteit. Hulle het 'n gesamentlike praktyk in Rome, New York oopgemaak. Die praktyk was egter nie suksesvol nie, aangesien vroulike dokters in daarde tyd oor die algemeen nie vertrou of gerespekteer is nie. Sy en haar man het later op grond van Miller se ontrouheid geskei.
Walker het in 1860 vir 'n kort ruk Bowen Kollegiale Instituut in Hopkinton, Iowa bygewoon, tot sy geskors is omdat sy geweier het om van die skool se debatsvereniging, wat tot haar aansluiting uitsluitlik uit mans bestaan het, te bedank.
Amerikaanse Burgeroorlog alt=Mary Edwards Walker|links|duimnael|Portret van Walker in haar huis. Walker het aan die begin van die Amerikaanse Burgeroorlog aangebied om as vrywillige chirurg te werk – eerste vir die Weermag. Sy was egter afgekeur omdat sy 'n vrou was (ten spyte van die feit dat sy 'n privaatpraktyk al vir baie jare bedryf het). Sy is die rol van verpleegster aangebied, maar het dit bedank en gekies om as burgerlike en vrywillige chirurg in die Unie Weermag diens te doen. Die Amerikaanse Weermag het geen vroulike chirurge op daardie stadium gehad nie en daarom is sy eers net toegelaat om as verpleegster te praktiseer. Gedurende hierdie periode het sy by die Die Eerste Slag van Bull Run (Union), die Slag van Manassas (Rebels) (Manassas, VA), 21 Julie 1861, en by die Patentekantoor Hospitaal in Washington, D.C. gedien. Sy het as 'n onbetaalde veldchirurg naby die Unie se voorste linies gewerk, insluitend by die Slag van Fredericksburg en in Chattanooga ná die Slag van Chickamauga. As 'n vrouestemreg-voorstander, was sy gelukkig om vroue as soldate te sien dien en het sy die pers ingelig oor Frances Hook, 'n vrou wat in die Uniemagte vermom as 'n man gedien het, in Saal 2 van die Chattanooga-hospitaal.Blanton, DeAnne, and Lauren M. Cook. They Fought Like Demons: Women Soldiers in the American Civil War. Baton Rouge: Louisiana State University Press, 2002, p. 96. Walker was die eerste vrouechirurg in die Unie Weermag. Sy het mansklere gedra wanneer sy gewerk het en beweer dat dit makliker was vir die hoë eise wat haar werk aan haar stel.
In September 1862 skryf Walker aan die Oorlogsdepartement en vra om as 'n spioen aangestel te word, maar haar voorstel word van die hand gewys.National Archives, RG108, E22, M1635, Mary E. Walker to Edwin M. Stanton, September 22, 1862 In September 1863 is sy aangestel as 'n "Kontrak waarnemende assistentchirurg (burgerlike)" deur die Weermag van die Cumberland, en word sy die eerste vroulike chirurg wat deur die Amerikaanse Weermag indiens geneem is. Walker was later as assistentchirurg van die 52ste Ohio Infanterie aangestel. Gedurende haar dienstydperk, het sy dikwels oorloglinies oortree en burgerlikes behandel.
Op 10 April 1864 is sy deur die Konfederasie se troepe gevange geneem en op die aanklag van spioenasie gearresteer, net nadat sy 'n Konfederasie-dokter gehelp het om 'n amputasie te voltooi. Sy is na die Castle Thunder-tronk in Richmond, Virginië, gestuur en het tot 12 Augustus 1864 daar gebly, waar sy as deel van 'n gevangene-uitruiling vrygelaat is.Massey, 1994, pages 62–63 Terwyl sy in aanhouding was, het sy geweier om die klere te dra wat aan haar voorsien is en as "meer gepas vir 'n vrou" beskryf is. Walker is op 12 August 1864 met 'n Konfederasie-chirurg van Tennessee uitgeruil.
Sy het toe as toesighouer by 'n vrouetronk in Louisville, Kentucky, en as die hoof van 'n kinderhuis in Tennessee gedien.
Latere loopbaan duimnael|Walker, c. 1870. |alt= 'n Swart en wit foto van Mary Walker wat 'n pak dra en na die kamera staan met haar regterhand in haar baadjie gesteek.
Ná die oorlog is daar ongeskiktheidspensioen aan Walker toegeken vir gedeeltelike spieratrofie wat sy as gevolg van die tyd wat sy deur die vyand aangehou is, opgedoen het. Sy is vanaf 13 Junie 1865 'n bedrag van $8.50 per maand gegee, maar in 1899 is die bedrag na $20 per maand verhoog.
Sy het 'n skrywer en dosent geword en kwessies soos gesondheidsorg, geheelonthouding, vroueregte, en kleredraghervorming vir vroue ondersteun. Sy is gereeld vir die dra van mansdrag gearresteer, en het aangedring dat dit haar reg is om klere te dra wat sy as gepas beskou.Massey, 1994, pages 360–361 Sy het twee boeke geskryf wat vroueregte en kleredrag bespreek het. Sy het in reaksie op die kritiek teenoor haar kleredrag gesê: "Ek dra nie mansklere nie, ek dra my eie klere."
Walker was lid van die Central Woman's Suffrage Bureau in Washington, D.C. en het fondse aangevra om 'n leerstoel aan 'n vroulike professor by die Howard Universiteit se mediese skool te skenk. In 1871 het sy probeer om te registreer om te stem, maar sy is weggewys. Die aanvanklike posisie van die beweging, onder haar leiding, was om aan te voer dat vroue reeds die reg het om te stem en dat die Congress slegs nodig gehad het om bemagtigende wetgewing in te stel. Na 'n aantal vrugtelose jare wat sy hierdie standpunt bepleit het, het die beweging die aanvaarding van 'n grondwetlike wysiging bevorder. Dit was lynreg in teenstelling met haar posisie, en sy het in onguns by die beweging geval. Sy het voortgegaan om vroustemreg-byeenkomste by te woon en haar eie literatuur te versprei, maar was feitlik geïgnoreer deur die res van die beweging. Haar neiging om manlike klere te dra, insluitende haar keil, het die situasie net vererger. Sy het 'n gunstiger ontvangs in Engeland as in die Verenigde State gekry.Massey, 1994, page 361
In 1907 het Walker "Crowning Constitutional Argument" gepubliseer waarin sy geargumenteer het dat sommige state, sowel as die Federale Grondwet, reeds aan vroue stemreg gegee het. Sy het in 1912 en 1914 oor vrouestemreg voor komitees van die Verenigde State se Huis van Verteenwoordigers getuig.
Na 'n lang siekbed is Walker op 21 Februarie 1919, op die ouderdom van 68, by die huis oorlede. Sy is by die Rural Cemetery in Oswego, New York begrawe, in 'n gewone begrafnis met 'n Amerikaanse vlag oor haar kis gedrapeer en met 'n swart pak in plaas van 'n rok beklee.Wilson, Scott. Resting Places: The Burial Sites of More Than 14,000 Famous Persons, 3d ed.: 2 (Kindle Location 49247). McFarland & Company, Inc., Publishers. Kindle Edition. Haar dood in 1919 was slegs 'n jaar voor die aanneming van die Negentiende Wysiging van die Verenigde State se Grondwet, wat vroue die reg om te stem gewaarborg het.
Kleredraghervorming