Frankenstein; or, The Modern Prometheus is 'n roman van 1818 deur die Engelse skrywer Mary Shelley. Frankenstein vertel die verhaal van Victor Frankenstein, 'n jong wetenskaplike wat in 'n onortodokse wetenskaplike eksperiment 'n intelligente wese skep. Shelley het die storie begin skryf toe sy 18 jaar oud was, en die eerste uitgawe is op 1 Januarie 1818, toe sy 20 was, naamloos in Londen gepubliseer. Haar naam verskyn die eerste keer in die tweede uitgawe, wat in 1821 in Parys gepubliseer is.

thumb|190px|links|'n Illustrasie van Boris Karloff as Frankenstein se monster op 'n styl B-plakkaat vir die rolprent van 1931. Shelley het in 1815 deur Europa getoer. Sy het met die Ryn in Duitsland langs gereis en Gernsheim besoek, wat 17 km van Frankenstein-kasteel af is. Vroeër het 'n alchemis (Johann Konrad Dippel, 1673-1734) daar eksperimente gedoen.Hobbler, Dorthy en Thomas. The Monsters: Mary Shelley and the Curse of Frankenstein. Back Bay Books; 20 August 2007.Garrett, Martin. Mary Shelley. Oxford University Press, 2002Seymour, Miranda. Mary Shelley. Atlanta, GA: Grove Press, 2002. pp. 110–11

Sy vertrek van daar na Genève, Switserland, waar 'n groot deel van die verhaal afspeel. Chemiese eksperimente en die okkultisme was gespreksonderwerpe van haar medereisigers, onder andere haar toekomstige man, Percy Shelley.

In 1816 het Mary, Percy, John Polidori en Lord Byron 'n kompetisie gehou om te kyk wie die beste rillerverhaal kon skryf. Shelley is geïnspireer om Frankenstein te skryf nadat sy haar 'n wetenskaplike voorgestel het wat lewe skep en met afsku vervul is oor wat hy gedoen het.

Hoewel Frankenstein vol elemente van die Gotiese roman en die Romantiese beweging is, meen Brian Aldiss dit is die eerste ware wetenskapsfiksieverhaal. Die roman het 'n aansienlike invloed op die letterkunde en op die moderne kultuur gehad; dit het gelei tot 'n hele genre van rillerstories, rolprente en toneelstukke.

Sedert die publikasie van die roman word die naam "Frankenstein" dikwels verkeerdelik gebruik om na die monster te verwys, eerder as na die skepper daarvan.Bergen Evans, Comfortable Words, New York: Random House, 1957Bryan Garner, A Dictionary of Modern American Usage, New York, Oxford: Oxford University Press, 1998.

Samevatting Kaptein Walton se inleidingsverhaal Frankenstein is 'n raamwerkverhaal in 'n briefvorm. Dit speel in die 18de eeu af en vertel van 'n fiktiewe korrespondensie tussen kaptein Robert Walton en sy suster, Margaret Walton Saville. Robert Walton is 'n mislukte skrywer wat die Noordpool verken in 'n poging om wetenskaplike kennis op te doen.

Tydens hulle reis sien die bemanning 'n hondeslee wat deur 'n reusefiguur getrek word. 'n Paar uur later red die bemanning 'n halfverkluimde en uitgemergelde man met die naam Victor Frankenstein. Frankenstein het die reuseman agtervolg wat deur Walton se bemanning gesien is. Hy begin van sy inspannende ondervinding herstel en sien in Walton dieselfde obsessie wat hom vernietig het. Hy vertel as 'n waarskuwing aan Walton die verhaal van sy lewe se ellendes.

Frankenstein se vertelling thumb|180px|Colin Clive, wat die rol van Victor Frankenstein vertolk in die 1931-prent. Victor begin sy verhaal by sy kinderjare. Hy is in Napels, Italië, gebore; hy en sy broers, Ernest en William, was die seuns van welgestelde ouers. Victor het van 'n jong ouderdom af die behoefte gehad om die wêreld te verstaan. Hy het 'n obsessie gehad om teorieë van alchemie te bestudeer. Toe hy ouer word, het hy besef dié teorieë is taamlik verouderd. Toe hy vyf jaar oud was, het sy ouers Elizabeth Lavenza aangeneem en Victor trou later met haar. Victor se ouers neem later nog 'n kind, Justine Moritz, in en sy word William se oppasser.

Weke voordat hy na die Uiniversiteit van Ingolstadt in Duitsland gaan, sterf sy moeder aan skarlakenkoors. Victor begrawe hom in sy eksperimente om sy hartseer te verwerk. Op universiteit blink hy uit in chemie en ander wetenskappe, en hy ontwikkel gou 'n geheime tegniek om lewe aan nielewende dinge oor te dra. Hy onderneem om 'n mensagtige figuur te maak, maar omdat dit so ingewikkeld is om al die klein besonderhede van die menslike liggaam na te maak, maak Victor die wese groot en omtrent 8 voet (2,4 m) lank. Victor probeer sy gelaatstrekke so kies dat hy mooi sal wees, maar toe sy skepping lewend word, is hy aaklig: met dowwe, waterige geel oë en 'n geel vel wat skaars die spiere en are daaronder verberg. Victor vlug, met afsku vervul deur sy werk. Hy loop die volgende dag deur die strate en toe hy na sy woonstel terugkeer, is sy skepping weg.

Victor word siek van sy ondervinding en dit duur vier maande voordat hy herstel. Hy ontvang 'n brief van sy vader om hom in te lig dat sy broer William vermoor is. Toe Victor in Genève aankom, sien hy die monster naby die misdaadtoneel en raak oortuig daarvan dat hy vir sy broer se dood verantwoordelik was. Justine Moritz, William se oppasser, word aan sy moord skuldig bevind nadat 'n sluithouertjie, met 'n portret van Caroline, in haar sak ontdek word. Victor weet niemand sal sy verhaal glo as hy Justine probeer red nie, en sy word gehang. Oorkom deur hartseer en skuld, trek Victor hom terug in die Alpe. Daar word hy deur die monster gekonfronteer, wat by hom pleit om na sy verhaal te luister.

Die monster se vertelling thumb|180px|'n Borsbeeld van Frankenstein se monster, geskoei op Boris Karloff, in die Nasionale Rolprentmuseum, Turyn.

Die monster is intelligent en welsprekend en vertel van die eerste dae ná sy skepping. Hy het alleen in die wildernis gewoon en uitgevind mense is bang vir hom en haat hom oor sy voorkoms, en dit het daartoe gelei dat hy vir hulle bang was en vir hulle weggekruip het. Terwyl hy in 'n verlate struktuur gewoon het wat vas was aan 'n huis, het hy begin hou van die arm gesin wat in die huis gewoon het. Hy het vir hulle vuurmaakhout bymekaargemaak, die sneeu uit hulle paadjie gevee en ander take verrig om hulle te help. Hy het maande in die geheim langs die huis gewoon en leer praat deur na hulle te luister. Hy het leer lees nadat hy 'n verlore sak boeke in die woud ontdek het. Toe hy sy weerkaatsing in 'n poel water sien, het hy besef hy is aaklig en dit het hom met net soveel afsku vervul as vir die mense wat hom gesien het.

Hy het al hoe meer van die gesin in die huis begin hou en eindelik besluit om hulle te nader in die hoop om hulle vriend te word. Hy het in die huis ingegaan toe net die blinde vader tuis was. Die twee het gesels, maar toe die res van die gesin terugkeer, was hulle bang. Die blinde man se seun het hom aangeval en die monster het uit die huis gevlug. Die volgende dag het die gesin hulle huis verlaat, want hulle was bang hy keer terug. Die monster was woedend oor die manier waarop hy behandel is en het moed opgegee dat mense hom ooit sal aanvaar.

Hoewel hy sy skepper gehaat het omdat hy hom alleen gelos het, het hy besluit om na Genève te reis om hom te vind, want hy het geglo Victor het die verantwoordelikheid gehad om hom te help. Op pad het hy 'n seun se lewe gered, maar die seun se pa, wat gedink het die monster wil hom seermaak, het hom in die skouer geskiet. Die monster het toe wraak teen alle mense gesweer. Hy het in Genève uitgekom met besonderhede in Victor se dagboek, William vermoor en Justine na die skuldige laat lyk.

Die monster eis dat Victor 'n vroulike maat vir hom skep, want hy voel as 'n mens het hy 'n reg op geluk. Die monster belowe dat hy en sy maat in die wildernis sal verdwyn en nooit terugkom nie as Victor aan sy versoek voldoen. As hy egter weier, sal die monster Victor se oorblywende familielede en vriende ook vermoor en hom heeltemal verwoes. Hy sal ook op sy troudag vir hom wag. Uit vrees vir sy familie stem Victor teensinnig in. Die monster sê hy sal oor Victor se skouer loer om sy vordering dop te hou.

Frankenstein vertel verder Victor en 'n vriend, Clerval, reis na Engeland, maar hulle paadjies skei op aandrang van Victor in Perth, Skotland. Victor vermoed die monster volg hom. Hy werk op Orkney aan die maat vir die monster, maar word geteister deur gedagtes van onheil. Hy is bang die vrou haat die monster of word wreder as hy. Nog kommerwekkender is die idee dat die twee monsters 'n hele ras kan maak wat die mensdom treiter. Hy ruk die onvoltooide vrou uitmekaar nadat hy die monster deur 'n venster sien kyk. Die monster storm in en konfronteer Victor, maar Victor weier om verder te werk.

Victor seil op die see uit om van sy instrumente ontslae ta raak, maar raak op die boot aan die slaap. Hy kan daarna nie terugkeer land toe nie, want die wind het verander, en hy word na die Ierse kus gewaai. Toe Victor in Ierland land, word hy vir Clerval se moord gearresteer, want die monster het Clerval verwurg en die lyk gelos waar sy skepper land. Victor kry 'n senuweeineenstorting en word in die tronk wakker. Hy word egter onskuldig bevind en vrygelaat.

Terug in Genève gaan Victor en Elizabeth trou en hy berei hom voor om tot die dood teen die monster te veg, onder meer met pistole en 'n dolk. Die aand ná hulle troue vra Victor Elizabeth om in haar kamer te bly terwyl hy die monster soek. Terwyl Victor die huis en erf deursoek, verwurg die monster Elizabeth. Victor sien die monster spottenderwys na Elizabeth se lyk wys; hy probeer die monster skiet, maar dié ontsnap. Victor se pa, verswak deur ouderdom en Elizabeth se dood, sterf 'n paar dae later.

Victor agtervolg nou die monster deur Europa, en daarna noord tot in Rusland, maar die monster bly hom ontwyk. Eindelik ly die jaagtog na die Arktiese Oseaan en daarna na die Noordpool. Toe hy naby die monster kom, stort hy ineen van uitputting en hipotermie, en die monster ontsnap.

Kaptein Walton sluit af Aan die einde van Victor se vertelling sit kaptein Walton die storie voort. 'n Paar dae nadat die monster ontsnap het, val sy skip in die ys vas en 'n paar van die bemanningslede sterf voordat die res daarop aandring om suid te vaar sodra die skip los is. Victor is woedend en steek ondanks sy toestand 'n kragtige toespraak af. Hy herinner hulle aan hoekom hulle by die ekspedisie aangesluit het en dat dit harde werk en gevaar is wat 'n onderneming soos hulle s'n suksesvol maak, nie gerief nie. Hy sê hulle moet mans wees, nie lafaards nie. Die bemanning is beïndruk, maar nie oortuig nie, en toe die skip vry is besluit Walton om suid te vaar. Victor sê hy sal alleen voortgaan; hy is vasbeslote om die monster te vang.

Victor sterf kort daarna en sê in sy sterwensuur aan Walton om "geluk en vrede te soek en ambisie te vermy." Walton kry die monster op sy skip waar hy oor Victor se liggaam treur. Hy vertel vir Walton dat Victor se dood nie vir hom vrede gebring het nie; sy misdade het hom ongelukkiger gemaak as wat Victor ooit was. Die monster belowe om homself te verbrand sodat niemand anders van sy bestaan sal weet nie. Walton kyk terwyl die monster wegvaar, en hy word nooit weer gesien nie.

Skrywer se agtergrond links|thumb|180px|Mary Shelley, deur Richard Rothwell (1840-'41).

Mary Shelley se moeder, Mary Wollstonecraft, is 11 dae ná haar geboorte aan infeksie oorlede. Shelley was dus baie na aan haar pa, William Godwin. William se tweede vrou, Mary Jane Clairmont, het nie gehou van die noue band tussen pa en dogter nie en dit het groot wrywing veroorsaak.