Die Duitse hoofstad Berlyn se Tempelhof-lughawe (IATA: THF, ICAO: EDDI) in die administratiewe stadsdeel Tempelhof-Schöneberg in die suidelike middestad was een van drie groot plaaslike lughawens en ook een van die eerste moderne lughawens ter wêreld wat vanaf 8 Oktober 1923 gereelde lugdienste gehanteer het. In 1927 was Tempelhof die eerste lughawe ter wêreld wat sy eie moltreinstasie (tans Platz der Luftbrücke) gekry het. Met meer as 350 000 passasiers was Tempelhof in 2007 die 22ste grootste lughawe in Duitsland.
As een van die bekendste geskiedkundige lughawens ter wêreld – dit was naas Londen se Croydon Airport en Parys se Le Bourget-lughawe een van drie ikoniese lughawens wat in Europa voor die Tweede Wêreldoorlog geopen is en het 'n sentrale rol tydens die Berlynse Lugbrug in 1948 en 1949 gespeel – is Tempelhof op 30 Oktober 2008 om ekonomiese en veiligheidsredes gesluit. Beeld, 30 Oktober 2008: Vliegtuie uit Tweede Wêreldoorlog groet bekende Berlynse lughawe Tempelhof was al lank nie meer winsgewend nie, terwyl 'n nuwe internasionale lughawe – Berlyn-Brandenburg Internasionale Lughawe – in die suidooste van Berlyn in aanbou was en op 31 Oktober 2020 geopen is.
Die lughawe is gedurende die Nazi-tydperk tussen 1936 en 1941 na sy huidige voorkoms verander en het destyds sy kenmerkende boogvormige hoofgebou gekry wat oor 'n lengte van 1,2 kilometer strek. Die gebou – tans 'n nasionale monument – was in Tempelhof se bloeitydperk in die 1950's, 1960's en vroeë 1970's in staat om die meeste destydse passasiersvliegtuie te hanteer wat maklik daarin kon parkeer. Passasiers is sodoende teen die weerselemente beskerm. Die hoofgebou word nog steeds onder die twintig grootste geboue ter wêreld gereken en het tot en met sy sluiting die kleinste doeanevrye winkel by enige internasionale lughawe gehuisves.
Ligging en openbare vervoer duimnael|links|Ligging van Berlyn se voormalige en huidige lughawens Die Tempelhof-lughawe is in die suidelike stadsentrum van Berlyn en binne die sogenaamde stadstreinring teen 'n hoogte van 51 meter bo seevlak geleë. Die hoofgebou en die grootste deel van die vliegveld maak deel uit van die stadsbuurt Tempelhof in die administratiewe stadsdistrik Tempelhof-Schöneberg. Die vliegveld strek tot in die stadsbuurt Neukölln van die gelyknamige administratiewe stadsdistrik.
Die lughawe is per pad oor die federale snelweg 100 se afrit nommer 20 en die Tempelhofer Damm-seksie van die federale pad 96 bereikbaar. Ander Berlynse strate, wat na die lughawe toe loop, is Mehring- en Columbiadamm asook Dudenstraße. Die strate het hul gemeenskaplike eindpunt by die plein Platz der Luftbrücke waar die hoofingang tot die lughawe geleë is.
Openbare vervoer na die lughawe is beskikbaar met die moltreinlyn 6 se Platz der Luftbrücke-stasie (wat Tempelhof ook met die spoorwegstasie Berlyn-Friedrichstraße verbind) en die buslyne 104 en 248, wat haltes digby die hoofingang het.
Geskiedenis Ontstaan duimnael|links|'n Lugfoto van die tuinstad Neu-Tempelhof naby die lughawe Die terrein, waarop die lughawe gebou is – die Tempelhofer Feld net buite die destydse stadsgebied van Berlyn – is tot in die 18de eeu as akkerbougrond gebruik. Onder die heerskappy van Frederik Willem I is dit tot 'n militêre paradeplein omgeskep waar alle groot parades van die Pruisiese en later dié van die keiserlike Duitse leër gehou is. Veral die parades ter geleentheid van die keiser se verjaardag het elke jaar 'n groot skare toeskouers gelok. Maar sodra die soldate die veld verlaat het (op Vrydae en veral op naweke) het duisende stadsbewoners na die veld gestroom om daar te ontspan, piekniek te hou en krieket, tennis en sokker te speel. Gedurende die winter was ysskaats en sleevaarte gewilde tydverdrywe. www.jedelsky.de: Flughafen Tempelhof: Zur Geschichte des Tempelhofer Feldes und des Flughafens
In 1909 het die Amerikaanse lugvaartpionier Orville Wright hier 'n vliegskou met sy vastevlerkvliegtuig aangebied en 'n aantal rekordvlugte onderneem. 'n Deel van die Tempelhofer Feld is later gebruik om die nuwe beplande tuinstad Neu-Tempelhof te bou.
In 1922 was daar planne om van die Tempelhofer Feld 'n handelskouterrein te maak, tog het 'n boukundige amptenaar, Leonhard Adler, die Berlynse Magistraat daarvan oortuig dat die terrein liewer vir die bou van 'n nuwe sentrale lughawe gebruik sou word. Met 'n opspraakwekkende vlug en naglanding, waartydens lede van die Magistraat se begrotingskomitee van Leipzig af teruggevlieg het, het Adler daarin geslaag om aanhangers vir sy projek te wen – alhoewel die Magistraatslede 'n besoek aan die nuut opgerigte handelskouterrein in Leipzig afgelê het.
'n Voorlopige vliegveld duimnael|'n Uitsig oor die huidige vliegveld Twee lugvaartondernemings, Junkers ('n vervaardiger van vliegtuie en enjins) en Aero Lloyd, het die koste van 'n voorlopige lughawe in Tempelhof geborg. Aan die noordelike kant van die Tempelhofer Feld het 'n klein vliegveld ontstaan waarop tenminste klein, ligte vliegtuie kon land. Naby die Volkspark Hasenheide is twee houtgeboue met 'n oppervlakte van 1 000 vierkante meter en die hoofgebou opgerig.
Op 8 Oktober 1923 het die vliegveld 'n voorlopige konsessie van die Reichsverkehrministerium (Ryksvervoerdepartement) gekry. Dr. Adler het op hierdie dag die Magistraat uitgenodig om die voorlopige vliegveld te besigtig en deur middel van statistieke en modelle die bewys gelewer dat Berlyn die nuwe lughawe vir die ontwikkeling van sy vervoerbedryf dringend sou benodig. Met rondvlugte, waaraan Magistraatslede kon deelneem, het Adler daarin geslaag ook die laaste twyfelaars na sy kant te wen. Ongelukkig het 'n vliegramp 'n donker skadu oor die gebeurtenis gegooi: Twee Magistraatslede het hul lewens verloor nadat hul vliegtuig oor die Hasenheide neergestort het.
Op 24 Mei 1924 is die Berliner Flughafen-Gesellschaft mbH, wat vandag nog steeds bestaan, as beheermaatskappy van die nuwe lughawe met Adler as president-kommissaris gestig. Die maatskappy had die "uitbou en bedryf van die lughawe op die Tempelhofer Feld en ander lugvaartgeriewe in Berlyn" ten doel gehad. Aanvanklik het die Magistraat van Berlyn as aandeelhouer gefungeer, maar vanaf 27 September 1924 het ook die Duitse Ryk aandele gehou. In 1925 het die Vrystaat Pruise as derde aandeelhouer in die nuwe lughawe belê.
Eerste boufase duimnael|Die Junkers F 13 (1919) was die eerste vliegtuig wat geheel en al van metaal gemaak is. Dit is ook deur die destydse Deutsche Luft Hansa as passasiers- en vragvliegtuig ingespan Die maatskappy het oor voldoende kapitaal beskik om onmiddellik met die uitbreiding van die lughawe te begin. 'n Bouperseel met 'n oppervlakte van sowat 1,5 miljoen vierkante meter is in die sentrum van die Tempelhofer Feld gelykgemaak, waarby die uitgegrawe grond vir die verlenging van Berlyn se noord-suidelike moltreinlyn (tans moltreinlyn 6) gebruik is wat destyds in aanbou was. Die grond was egter nie voldoende nie, en 'n bykomende 18 000 ladings vullis is benodig om die moltreintrajek op te vul.
In laat 1924 is met die oprigting van die groot vliegtuighalle begin. Drie westelike halle met 'n totale oppervlakte van 64 × 25 meter en 'n hoogte van ses meter het ontstaan. Hulle het nogtans vinnig geblyk om te klein te wees sodat die drie oostelike halle met 'n oppervlakte van 80 × 30 meter en 'n hoogte agt meter gebou is. Naas die vliegtuighalle is 'n kolligtoring, 'n radiostasie en 'n vertreksaal opgerig. Die eerste boufase is in 1927 voltooi, en die lughawe was die eerste ter wêreld wat via 'n eweneens nuut geboude moltreinstasie, Flughafen (tans Paradestraße), toeganklik was.
Die eerste gereelde vlugte het München bedien van waar passasiers verder kon vlieg na Switserland, Oostenryk en die Balkanskiereiland asook Koningsberg (tans Kaliningrad). Hier kon passasiers oorstap na vliegtuie op die roete tussen Londen en Moskou via Berlyn-Staaken. In 1923 was daar altesaam 100 opstygings en landings met 150 passasiers en 1 300 kilogram lugvrag.
Op 6 Januarie 1926 het twee lugrederye, Junkers Luftverkehr en Aero Lloyd, saamgesluit om die nuwe lugdiens Deutsche Luft Hansa A.G. met Berlyn-Tempelhof as sy basis te vorm. Die eerste gereelde vlug van die nuwe lugredery het op 6 April 1926 met Zürich as bestemming plaasgevind – die lughawe was destyds gedurende die winter nog gesluit.
Tweede boufase Gedurende die tweede boufase is die lughawe se vertreksaal uitgebrei. 'n Groot gebou met buitemure van klinkerstene is opgerig. Dit het oor 'n lughawerestourant, wat deur Mitropa bedryf is, 'n uitsigdek vir besoekers en 'n hotel beskik. Nogtans was dit reeds by die voltooiing van hierdie uitbreiding duidelik dat die destydse konsep vanweë die snelle groei van Tempelhof onmoontlik volhoubaar sou wees – in 1930 is aansoek om die oprigting van 'n nuwe hoofgebou gedoen. Die owerhede het die saak reeds binne agt dae bekyk, en nog op dieselfde dag is die besluit geneem om 'n nuwe lughawe te bou.
'n Nuwe hoofgebou duimnael|'n Model van Tempelhof-lughawe In die 1930's was Tempelhof ten opsigte van sy passasiersgetalle en die lugvrag, wat hier gehanteer is, die besigste lughawe in Europa nog voor Parys, Amsterdam en Londen. Sy kapasiteit was vinnig uitgeput, en in 1934 is 'n uitbreiding deur die argitek Ernst Sagebiel beplan wat sowel uitdrukking aan nuwe stedeboukundige konsepte gegee het asook aan die Nasionaalsosialiste se smaak vir monumentale boukuns voldoen het. Daarnaas het die bouplan ook die verwagte ontwikkeling van lugvervoer vooruitgeloop – die lughawe was uitgelê vir tot by ses miljoen passasiers per jaar. Die lughawe sou volgens die planne nie net vir vervoerdoeleindes gebruik word nie, maar ook gebeurtenisse soos die Reichsflugtag (die Duitse Ryk se jaarlikse nasionale lugvaartskou) sou hier gehou word. Daarnaas sou die lughawe 'n groter aantal lugvaartinstellings huisves.
Die hoofgebou, wat vanaf 1936 ontstaan het, was ná sy voltooiing in 1941 met 'n bruto gebou-oppervlakte van 307 000 vierkante meter twee jaar lank die grootste gebou ter wêreld voordat dit deur die Amerikaanse Pentagon in Arlington verbygesteek is. Tempelhof-lughawe – Feite Selfs vandag word dit ten opsigte van sy oppervlakte nog onder die twintig grootste gebou gereken. Die boogvormige hoofgebou strek oor 'n lengte van 1,2 kilometer – dit is sodoende ook een van die langste bouwerke in Europa.
duimnael|links|Die Deutsche Luft Hansa se "opelug-vertreksaal" in April 1930 Die vliegveld is as 'n ovale grasperk met 'n deursnee van bykans twee kilometer uitgelê sodat die relatief ligte vliegtuie van daardie tydperk – waaronder die Junkers Ju 52/3m – presies teen die wind kon opstyg en land. Danksy die insluiting van die nabygeleë Volkspark asook sportvelde en klein tuine, wat rondom die lughawe geleë was, en 'n gedeelte van die ou garnisoenbegraafplaas kon die lughawe se terrein tot meer as 4,5 miljoen vierkante meter uitgebrei word. Die nuwe lughawekompleks het op hierdie terrein rondom die ou lughawe ontstaan sodat die bouwerksaamhede geen beduidende ontwrigtende uitwerking op die lughawe se bedrywighede gehad het nie. Die ou lughawe se oorblyfsels is eers in die 1950's verwyder.
Die moltreintoegang tot die lughawe is saam met die nuwe hoofgebou in die rigting van die moltreinstasie Kreuzberg verskuif, en die moltreinstasie is hernoem tot Flughafen (tans Platz der Luftbrücke).
Boubedrywighede het ook ná die uitbreek van die oorlog in 1939 voortgegaan. Nogtans was die nuwe lughawe selfs aan die einde van die oorlog in 1945 nog nie voltooi nie. Die ou lughawe was steeds in gebruik, tog het bomaanvalle aansienlike skade op Tempelhof aangerig, en burgerlike lugvervoer is kort voor die einde van die oorlog gestaak. Op 22 April 1945 het die twee laaste Berlynse Lufthansa-vliegtuie in rigting Travemünde en München, die lugredery se voorlopige basis, vertrek.
Einde van die Tweede Wêreldoorlog duimnael|Die lughawe ná die einde van die oorlog