Die Negende Simfonie in D-mineur, Op. 125 is die vroegste voorbeeld van 'n simfonie waarin 'n belangrike komponis sang inspan.Bonds, M.E. 2001. "Symphony: II. The 19th century". In The New Grove dictionary of music and musicians. Tweede uitgawe. Londen: Macmillan, volume 24, bl. 837. Die finale (vierde) beweging van die simfonie is getoonset vir vier sangers en 'n koor in die parallel gemoduleerde toonsoort van D-majeur. Die teks is aangepas uit "An die Freude" (Afrikaans letterlik "aan die vreugde"), 'n gedig deur Friedrich Schiller (1785, hersien in 1803), met bykomende teks deur Beethoven self.
In 2001 is Beethoven se oorspronklike, handgeskrewe manuskrip van die partituur, wat deur die Berlynse Staatsbiblioteek gehou word, by die Memory of the World Program Heritage-lys van die Verenigde Nasies gevoeg. Dit het sodoende die eerste musiekpartituur geword wat dié eer te beurt geval het.UNESCO. 2001. Ludwig van Beethoven: Symphony no. 9, d minor, op. 125. Geargiveer van die oorsprinklike op 22 Maart 2022. Geraadpleeg op 18 Desember 2023. Geskiedenis
Komposisie Die Londense Filharmoniese Vereniging het Beethoven in 1817 opdrag gegee om die simfonie te komponeer.Solomon, M. 1997. Beethoven. New York: Schirmer Books, bl. 251. Voorsketse (rowwe idees) vir die werk is ook daardie jaar gemaak, met die toonsoort as D-mineur en sang in die vooruitsig gestel. Die belangrikste komposisiewerk is verrig tussen die herfs van 1822 en Februarie 1824.Hauschild, P. 2005. Beethoven: Symphonie Nr. 9 d-moll. , bl. VIII. Die simfonie toon ooreenkomste met ander werke van Beethoven wat, hoewel voltooide werke in eie reg, ook in 'n sekere sin voorlopers van die Negende Simfonie is. Die Koraalfantasie, op. 80 van 1808 is basies 'n beweging uit 'n klavierkonsert wat 'n koor en soliste aan die einde inkorporeer wanneer die werk 'n hoogtepunt bereik. Die sangers sing 'n tema wat eers deur die orkes gespeel word – en dié tema is 'n vooruitskouing van die tema in die Negende Simfonie.
'n Vroeëre weergawe van die Koorfantasie-tema kom ook in die lied "Gegenliebe" (Afrikaans letterlik "teruggekeerde liefde") voor, wat voor 1795 vir klavier en hoë stem gekomponeer is. Volgens sowel Robert W. GutmanGutman, R.W. 1999. Mozart: A cultural biography, blp. 344. as Hauschiald bevat Mozart se Offertorium in D-mineur, "Misericordias Domini" (KV 222), wat in 1775 gekomponeer is, 'n melodiese tema wat die tema van die Negende Simfonie se "An die Freude"-tema voorafskadu.
Première Hoewel die meeste van sy groot werke vir die eerste keer in Wene uitgevoer is, was Beethoven gretig om sy jongste komposisie so gou moontlik ná voltooiing daarvan in Berlyn uit te voer, aangesien hy gemeen het dat die heersende musieksmaak in Wene deur Italiaanse komponiste soos Rossini beïnvloed is. Sien Sachs 2010. Toe sy vriende en finansiers dit hoor, het hulle hom egter aangemoedig om die simfonie in Wene te première as 'n petisie wat deur 'n aantal prominente Weense musiekbeskermhere en musici onderteken is. links|duimnael| Die Theater am Kärntnertor in 1830 Beethoven was gevlei deur die Weense heldeverering en daarom is die Negende Simfonie op 7 Mei 1824 in die Theatre am Kärntnertor in Wene saam met die ouverture Die Weihe des Hauses (op. 124) en die "Kyrie", "Credo" en "Agnus Dei" uit die Missa solemnis (op. 123) uitgevoer. Dit was die komponis se eerste verskyning op die verhoog in 12 jaar; die saal was stampvol met 'n gretige en nuuskierige gehoor en 'n aantal musici en figure in Wene, insluitend Franz Schubert, Carl Czerny en die Oostenrykse kanselier Klemens von Metternich.Sien.Morrisroe, P. 2020. The behind-the-scenes assist that made Beethoven's Ninth happen. New York Times, 8 Desember. Geraadpleeg op 18 Desember 2023.
Die première van Negende Simfonie het die grootste orkes betrek wat Beethoven ooit saamgestel hetSien. en het die gesamentlike pogings van die Kärntnertor-huisorkes, die Weense Musiekvereniging (die Gesellschaft der Musikfreunde), en 'n uitgesoekte groep bekwame amateurs vereis. Hoewel daar geen volledige lys van al die betrokke kunstenaars bestaan nie, is dit bekend dat verskeie van Wene se musikale elite daaraan deelgeneem het.Kelly, T.F. 2001. First nights: Five musical premiers. Hoofstuk 3. Yale University Press1.
Die sopraan- en altsoliste was twee bekende jong sangers: Henriette Sontag en Caroline Unger. Die Duitse Sontag was 18 jaar oud toe Beethoven haar persoonlik gewerf het om in die première van die Negende te sieng Elson, L. (red.). 1912. University musical encyclopedia of vocal music. New York: University Society.Sontag, H.G.W. 1852. Life of Henriette Sontag, Countess de Rossi. New York: Stringer & Townsend. Die 20-jarige contralto Caroline Unger – ook persoonlik deur Beethoven gewerf – was 'n boorling van Wene, het in 1821 beroemdheid verwerf nadat sy in Rossini se Tancredi verskyn het. Nadat sy in Beethoven se première van 1824 gesing het, het Unger ook roem in Italië en Parys gevind. Dit is bekend dat die Italiaanse komponiste Donizetti en Bellini rolle spesifiek vir haar stem geskryf het.Kennedy, M. & Bourne, J. 1996. The concise Oxford dictionary of music. Oxford: Oxford University Press. Anton Haizinger en Joseph Seipelt het die tenoor- en baspartye gesing. links|duimnael| 'n Portret van Beethoven uit 1824, die jaar waarin sy Negende Simfonie gepriemière het. Hy was reeds byna stokdoof toe hy dit gekompkneer het. duimnael| Caroline Unger was die altsolis by die eerste uitvoering van Beethoven se Negende Simfonie. Volgens oorlewering het sy Beethoven omgedraai sodat hy die toejuigende gehoor kon sien. Hoewel die opvoering amptelik deur Michael Umlauf (die teater se Kapellmeister) gedirigeer is, het Beethoven die verhoog met hom gedeel. Twee jaar tevore het Umlauf egter toegekyk hoe Beethoven se pogings om 'n kleedrepetisie vir 'n hersiening van sy opera Fidelio te dirigeer op 'n ramp afstuur. Hy het hierdie keer die sangers en musikante vooraf aangesê om die byna stokdowe Beethoven te ignoreer. Aan die begin van elke beweging het Beethoven, wat langs die verhoog gesit het, die tempo gegee. Hy het die bladsye van sy partituur omgeblaai en die tempo aangedui vir 'n orkes wat hy nie kon hoor nie.Cook, N. 1993b. 2. Early impressions. In Cook, N. Beethoven: Symphony No. 9. Cambridge Music Handbooks. Cambridge: Cambridge University Press, bl. 26–47. DOI: https://doi.org/10.1017/CBO9780511611612.003.
Daar is 'n aantal staaltjies oor die première van die Negende Simfonie. Daar was volgens sommoge deelnemers se menings aanduidings dat die simfonie nie behoorlik ingestudeer is nie (daar was net twee volledige repetisies) en ietwat ongelyk uitgevoer is. Aan die ander kant was die première 'n groot sukses. Beethoven was in elk geval nie te blameer nie, soos wat die violis Joseph Böhm onthou het (vertaal uit die Engels):Sien Cooks 1993, bl. 22.Beethoven het self gedirigeer, dit wil sê hy het voor 'n dirigent se staander gestaan en hom soos 'n mal man heen en weer gegooi. Op die een oomblik het hy tot sy volle lengte gestrek, die volgende oomblik het hy op die vloer gehurk, hy het met sy hande en voete rondgeswaai asof hy al die instrumente wou bespeel en al die koorpartye wou sing. — Die eintlike leiding was in [Louis] DuportBöhm het na alle waarskynlikheid hier na die dirigent Michael Umlauf verwys. se hande; ons musici het bloot sy dirigeerstokkie gevolg.Volgens berigte is die scherzo op 'n stadium heeltemal deur applous onderbreek. Getuienis verkil hieroor, maar óf aan die einde van die scherzo, óf die einde van die simfonie was Beethoven verskeie mate agter die orkes en het steeds voortgederigeer. Die alt Caroline Unger het na Beethoven gedraai en hom saggies omgedraai om die gehoor se gejuig en applous te sien. Volgens die kritikus van die Teater-Zeitung het die publiek die musikale held met die grootste respek en simpatie ontvang, met versonke aandag na sy wonderlike, reusagtige skeppings geluister en in juigende applous uitgebreek – dikwels in bewegings selfs en herhaaldelik aan die einde daarvan.Sien Cook 1993, bl. 23. Die gehoor het hom vyf keer met staande applous toegejuig, daar was sakdoeke in die lug, hoede en opgehewe hande, sodat Beethoven (wat hulle geweet het nie die applous kon hoor nie) ten minste die toejuiging kon sien.Sien Sachs 2010.
Uitgawes Die eerste Duitse uitgawe is in 1826 deur B. Schott se Söhne (Mainz) gepubliseer. Die Breitkopf & Härtel-uitgawe, wat uit 1864 dateer, is wyd deur orkeste gebruik.Del Mar, J. 1999. Jonathan Del Mar, New Urtext Edition: Beethoven Symphonies 1–9. Resensie deur die British Academy. Gerargiveer van die oorspronklike op 23 Oktober 2007. Geraadpleeg op 19 Desember 2023. In 1997 het Bärenreiter 'n uitgawe deur Jonathan Del Mar gepubliseer.bärenreiter.com. S.d. Ludwig van Beethoven The Nine Symphonies The New Bärenreiter Urtext Edition. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Oktober 2007. Geraapleeg op 18 Desember 2023. Volgens Del Mar maak hierdie uitgawe byna 3 000 foute in die Breitkopf & Härtel-uitgawe reg, waarvan sommige "merkwaardig" was.Zander, B. S.d. Beethoven 9 The fundamental reappraisal of a classic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 April 2012. Geraadpleeg op 18 Desember 2023. David Levy het hierdie uitgawe egter gekritiseer en gesê dat dit heel moontlik valse tradisies kan skep.Del Mar, J. 2003. Concerning the review of the Urtext Edition of Beethoven's Ninth Symphony. Beethoven Forum 10(1). Geraadpleeg op 18 Desember 2023. Breitkopf & Härtel het in 2005 ook 'n nuwe uitgawe deur Peter Hauschild gepubliseer.Breitkopf & Härtel. 2005. Beethoven: The nine symphonies. Geraadpleeg op 18 Desember 2023.
Instrumentasie Die musici wat vir die uitvoering van Beethoven se Negende Simfonie benodig word, is verreweg die meeste wat vir enige Beethoven-simfonie vereis word. Tydens die première het Beethoven die groep verder aangevul deur twee spelers aan elke blaserparty toe te wys.Thayer, A.W. 1973.Thayer's life of Beethoven. Revised and edited by Elliott Forbes. Princeton, New Jersey: Princeton University Press, bl. 905. Die toedeling is soos volg:
Houtblasers
1 piccolo (slegs in die vierde beweging)
2 fluite
2 hobo's
2 klarinette in A, B-mol en C
2 fagotte
1 kontrafagot (slegs in die vierde beweging)
Koperblasers
4 Franse horings in D, B-mol en E-mol
2 trompette in D en B-mol
3 trombone (alt, tenoor en bas; slegs in die tweede en vierde beweging)
Slagwerk
Keteltromme
Bastrom (slegs in die vierde beweging)
Driehoek (slegs in die vierde beweging)
Simbaal (slegs in die vierde beweging)
Strykers
Viool I en II
Altviole
Tjello's
Basviole
Stem (slegs in die vierde beweging)
Sopraansolo
Altsolo
Tenoorsolo
Bariton- (of bas-)soloDie bladmusiek dui "bariton" aan, maar die meeste uitvoerings maak van 'n bas gebruik. Sien byvoorbeeld: Beethoven, L. van. 1863. Symphonien für grosses Orchester: Symphony no. 9. Leipzich: Breitkopf & Härtel, bl. 195
SATB-koor (waarvan die tenore vir 'n kort rukkie in twee verdeel)
Struktuur Die simfonie bestaan uit vier bewegings. Die struktuur van elke beweging is soos volg: