Die Koninklike Nederlandse Krieketbond (Nederlands: Koninklijke Nederlandse Cricket Bond, afgekort “KNCB”) is die bestuursliggaam wat krieket in Nederland beheer. Die beheerliggaam is in 1883 gestig en in Nieuwegein gesetel. Sedert 1966 verteenwoordig dit Nederland by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n assosiaatlid en ook by die Europese Krieketraad (European Cricket Council, “ECC”).
Geskiedenis Op 30 September 1883 is die Nederlandse Krieketbond gestig op inisiatief van die Haagsche Krieketklub en 18 ander stigtingslede, waarvan vier vandag nog bestaan (HCC, Hercules Utrecht, Hilversum en UD Deventer). In 1958 het die Nederlandse beheerliggaam ’n koninklike handves van Koningin Juliana ontvang en sedertdien mag dit na homself as “Koninklike Nederlandse Krieketbond” (Koninklijke Nederlandse Cricket Bond, KNCB) verwys. In 1966 het dit ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword.
Taak Die Koninklike Nederlandse Krieketbond organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Nederland se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die vlieënde Nederlanders), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Koninklike Nederlandse Krieketbond verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Nederlandse span. Sint Maarten, ’n outonome land binne die Koninkryk van die Nederlande, is ’n lid van Krieket Wes-Indië, waarvolgens van sy spelers vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan gekeur mag word.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Nederland. Net soos ander krieketlande beskik Nederland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Nederland is die Topklasse en die Nederlandse T20-beker. In 2019 het die Koninklike Nederlandse Krieketbond saam met Krieket Ierland en Krieket Skotland die Euro T20 Slam aangekondig. Aan dié nuwe toernooi sal twee spanne elk uit Ierland, Nederland en Skotland deelneem.
Die Koninklike Nederlandse Krieketbond organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die Krieketwêreldbeker 1999 (saam met Engeland, Ierland en Skotland).
Kenteken Die Koninklike Nederlandse Krieketbond se kenteken toon ’n gekroonde leeu wat trap, voor hom ’n paaltjie wat lê. Die leeu op die kenteken is die nasionale en koningsdier van Nederland.
Sien ook Rugby Nederland
Verdere leesstof
Verwysings
Eksterne skakels Amptelike webwerf van die Koninklike Nederlandse Krieketbond
Kategorie:Krieket in Nederland Kategorie:Krieketbeheerliggaam Kategorie:Internasionale Krieketraad