thumb|280px|Baba Jaga, 'n bekende karakter uit die Russiese folklore.

Russiese folklore is folklore van die Russe en ander etniese groepe van die land. Dit het sy wortels in die heidense geloofsoortuigings van die antieke Slawiërs en kom nou voor in Russiese sprokies. Epiese Russiese bilinas is ook 'n belangrike deel van die Slawiese heidendom. Die oudste bilinas (Russies: bilini) van die Kiëfse siklus is in die Russiese Noorde aangeteken, veral in Karelië, waar ook die grootste deel van die Finse nasionale epos Kalevala aangeteken is.

In die laat 19de eeu is Russiese sprokies in Engels begin vertaal, met Russian Folk Tales (1873) deur William Ralston en Tales and Legends from the Land of the Tzar (1890) deur Edith Hodgetts.

Baie Russiese sprokies en bilinas is vir animasieprente verwerk, of selfs vir rolprente deur bekende regisseurs soos Aleksandr Ptoesjko (Ilja Moeromets, Sadko) en Aleksandr Rou (Morozko, Wasilisa die Skone).

Sommige Russiese digters, soos Pjotr Jersjof en Leonid Filatof, het verskeie digterlike vertolkings van die klassieke Russiese sprokies gepubliseer, en in sommige gevalle oorspronklike, gewilde sprokiegedigte geskryf, soos Aleksander Poesjkin.

Geskiedenis Volkstradisie in Kiëf-Roes voor kerstening (c. 987 n.C.) Dit lyk of die vroeë Slawiese gemeenskappe grootliks in klein dorpies gekonsentreer was en beheer is deur 'n groep mense eerder as 'n enkele leier. Daar was 'n sterk fokus op die gesinseenheid. Die gebied wat as die vaderland van Slawiese volke beskou word, is rofweg waar vandag se Oos-Europese lande geleë is. Oos-Slawiërs het om die Wolga-Dnjepr-bekken ontstaan. Die Okarivier was die vaderland van Slawiese stamme waaruit die Russiese kultuur gegroei het. Die Suid-Slawiese kultuur het in die Balkanstreek gegroei. Die Wes-Slawiese volke het waarskynlik ontstaan in Oos-Pole. Die natuur het 'n groot rol gespeel in die vroeë Slawiese kultuur.

Een vroeë Russiese onderwerp van aanbidding was die "Klam Moederaarde", en 'n latere, moontlik verwante god was Mokosj, wie se naam "klam" beteken en wat 'n Finse oorsprong kan hê. Mokosj was die godin van vroue, kinders en diere, en sy is aanbid vanweë haar verbintenis met vrugbaarheid. Die Russiese grond is gewoonlik van swak gehalte en die reën val ongereeld; daarom is die groeiseisoen relatief kort. Vrugbaarheid en klammighid is dus noodsaaklik vir sukses in die Russiese landbou. Omdat die vroeë Slawiërs nie eintlik 'n jagtersbasis vir die verkryging van kos gehad het nie en nie op goeie voet met hulle bure was nie, het die Russiese gemeenskappe hoofsaaklik op landbou gesteun vir hulle sukses.

Daar is ook 'n vermoede dat daar 'n vroulike element in die vroeë Slawiese kultuur was, met 'n verskuiwing na 'n patriargale stelsel namate die Christendom omstreeks 987 n.C. in die gebied vastrapplek gekry het. Die aanbidding van voorouers was nog 'n sentrale aspek van die stamlewe en het gedien as 'n skakel tussen vorige en toekomstige generasies. Animisme (die geloof dat alles 'n gees het) was ook 'n algemene geloof; daarom het natuur- en huisgeeste 'n sentrale rol in die alledaagse stamlewe gespeel.

Volkstradisie in Christelike Kiëf-Roes (987-1917/'22) thumb|180px|Die seetsaar uit die "The Russian Story Book" deur Richard Wilson. Illustrasie deur Frank C. Papé, 1916. thumb|180px|'n Illustrasie uit "The Russian Story Book", illustrasie deur Papé. thumb|180px|'n Illustrasie uit "The Russian Story Book", illustrasie deur Papé.

Wladimir I (of "Wladimir die Grote", "sint Wladimir") het hom in 987 n.C. tot die Christendom bekeer en dit daarna die staatsgodsdiens van Kiëf-Roes gemaak. Afgode is veral in Kiëf en Nowgorod vernietig.

Ondanks die kunsmatige uitwissing van die heidense geloof, het animisme en vooroueraanbidding in rituele, stories, gelukbringers en die praktyke van die boere bewaar gebly. Sekere heidense gode en onderwerpe van aanbidding is in die range van die Christelike heiliges opgeneem. Of heidense vakansiedae is behou, maar het nuwe name gekry soos Drie-eenheidsdag, waarop boeremeisies die natuurgees roesalka vereer, die lewe van voorouers sou vier en waarsêery sou beoefen. Die saambestaan van heidense en Christelike geloofsoortuigings word "godsdiensdualiteit" genoem en is aangetref in 'n groot deel van die Russiese boerekultuur.

Sekere heidense rituele en geloofsoortuigings is deur die Christelike kerk verdra en selfs ondersteun. In sulke gevalle is die rituele hervertolk as in wese Christelik. Die winterritueel om hooi op die vloer te strooi, is byvoorbeeld verbind mat die viering van Jesus se geboorte met Kersfees. Wanneer die kerk 'n praktyk veroordeel het, het hulle dit gewoonlik nie verwerp omdat dit "uitgedink" is nie, maar omdat "die duiwel daaragter sit".

Russiese folklore in die Sowjetunie (1917/'22-1991) Die 1920's was 'n goeie tyd vir folklore in die Sowjetunie. Die nuwe regering, wat 'n nuwe administratiewe stelsel moes daarstel en die land se swak ekonomie moes herstel, het nie juis probeer om letterkunde te beheer nie, en folklorestudies het floreer. Daar was in dié dekade twee neigings: Die Russiese formaliste en die Finse skool. Formalisme het gefokus op die artistieke vorm van antieke bilinas en feëverhale, veral hulle spesifieke strukture en digterlike ontwerpe. Die Finse skool het die verbintenisse ondersoek tussen verwante legendes van verskeie Oos-Europese streke.

Nadat Josef Stalin aan die bewind gekom het en die eerste vyfjaarplan in 1928 in werking gestel is, het die Sowjetregering folklorestudies begin kritiseer en sensor. Stalin en sy regering het geglo folklore ondersteun die tsaristiese stelsel en 'n kapitalistiese ekonomie. Hulle het dit beskou as 'n oorblyfsel van die agterlike Russiese gemeenskap wat die Bolsjewiste nou hard probeer verbeter het.

Om folklorestudies te beperk en te keer dat onbehoorlike idees onder die massa versprei, het die regering die Russiese Vereniging van Proletariese Skrywers (RVPS) gestig. Die RVPS het daarop gefokus om feëverhale en kinderletterkunde te sensor, want hulle het geglo fantasie en "bourgeois onsin" beïnvloed die ontwikkeling van agtermekaar Sowjetburgers nadelig. Feëverhale is van winkelrakke verwyder en kinders is aangemoedig om boeke oor die natuur en wetenskap te lees. Die RVPS het eindelik hulle vlak van sensuur verhoog en in 1932 die Unie van Sowjetskrywers geword.

In 1934 het Maksim Gorki 'n toespraak voor die Unie van Sowjetskrywers gelewer waarin hy gesê het folklore kan bewustelik gebruik word om Kommunistiese waardes te bevorder. Folklore, met baie van sy konflikte gebaseer op die stryd van 'n werkgeoriënteerde leefstyl, was relevant tot Kommunisme omdat dit nie sou kon bestaan sonder die regstreekse bydraes van die werkersklas nie. Gorki het ook geredeneer karakters in folklore toon hoë vlakke van optimisme, en kan lesers dus aanspoor om positief te bly, veral namate hulle lewe al hoe meer verander vanweë die verdere ontwikkeling van Kommunisme.

Joeri Sokolof, hoof van die folkloreafdeling van die Unie van Sowjetskrywers, het ook folklorestudies aanbeveel omdat dit gesamentlike projekte onder Sowjetburgers kon bevorder. Karakters bevind hulle dikwels op 'n reis van selfontdekking, 'n proses wat daartoe lei dat hulle hulle nie as individue hoogag nie, maar as 'n noodsaaklike deel van 'n gesamentlike geheel. En dit is die idees wat die Sowjetunie by sy burgers wou tuisbring.

Oortuig deur Gorki en Sokolof se argumente, het die Sowjetregering en die Unie van Sowjetskrywers begin om folklore van oor die land te versamel en evalueer. Die unie het veral verhale versamel wat die kollektiewe gees bevorder en die Sowjetregering se voordele en vooruitgang wys. Dit het dan eksemplare van goedgekeurde verhale deur die bevolking versprei. Intussen het plaaslike folkloresentrums in alle groot stede ontstaan wat toegesien het dat die media die geskikte weergawes van Russiese volksverhale publiseer.

Verder het skrywers in Stalin se tyd self Kommunistiese volksverhale geskryf en hulle gekombineer met die destydse lewe in die Sowjetunie. Hulle is nowini (kort vir "nuwe bilini") genoem, wat beskou is as die renaissance van die Russiese epos. Van folkloriste is verwag om moderne volksangers die konvensionele styl en struktuur van die tradisionele bilinas te leer. Hulle het ook aan hulle die regte soort Kommunistiese ideologieë verduidelik wat in die nuwe stories en liedere verwag is.

Dié nuwe Sowjetfeëverhale en het gefokus op die kontraste tussen 'n miserabele lewe in die ou tsaristiese Rusland en 'n beter een onder Stalin se leierskap. Die helde moes 'n veranderde, beter weergawe van die gemiddelde burger uitbeeld en die leser 'n duidelike beeld gee van die ideale kollektief geïnspireerde self wat hy of sy moet word.

In plaas daarvan om advies van 'n mitiese wese te kry, sou die protagonis raad van die alomteenwoordige Stalin kry. As die karakter Stalin se goddelike raad gevolg het, kon hy verseker wees van sukses in alles wat hy aanpak en 'n volledie transformasie ondergaan in die "Nuwe Sowjetman". Die skurke in die verhale was die Wittes: onbekwame, agterlike kapitaliste.

Toe Stalin in Maart 1953 sterf, het folkloriste van die tydperk gou opgehou om die kontemporêre volksverhale te skryf. Omdat die verhale uit die pen van individuele skrywers gekom het en nie uit die mondelinge tradisies van die werkersklas nie, word hulle as skynfolklore beskou. In plaas daarvan dat folklore onder Stalin soos destyds beskou word as 'n renaissance van die tradisionele Russiese epos, word dit vandag gewoonlik beskou as 'n tydperk van beheer en valsheid.

Tipes Volksverhale Bewyse van Russiese volksverhale kom uit 'n tydperk so vroeg as die 12de eeu, wat beteken dit bestaan al veel langer. Nie veel van die Russiese volksverhale bestaan vandag meer nie, grootliks omdat verhale van 'n nie-Christelike oorsprong deur die Kerk onderdruk is. Eers teen die 16de eeu is begin om Russiese volksverhale neer te skryf, en 'n werklike versameling van Russiese volksverhale is eers teen die 19de eeu gepubliseer: Bogdan Bronitsin se Russiese Volksverhale (1838). Die bestudering van folklore het veral in die laat 20ste eeu (omstreeks die 1960's) momentum gekry.

Verskeie pogings is aangewend om Europese folklore te klassifiseer, waarvan een begin is deur die Finse folkloris Antti Arne en later ontwikkel is deur die Leningradse professor N.P. Andrejef. In dié stelsel is 915 hooftipes volksverhale geïdentifiseer (gekategoriseer volgens tema, storielyn, karakters en ander elemente). Van hulle is omtrent 'n derde (317 tipes) van beide Wes- en Oos-Europese oorsprong, 'n derde (302 tipes) van eksklusief Wes-Europese oorsprong en 'n derde (296 tipes) van eksklusief Oos-Europese oorsprong.

Towerverhale Daar is twee hoofsoorte towerverhale in die Russiese kultuur: (1) bose towerverhale en (2) produktiewe of goeie magie. Eersgenoemde word met die duiwel verbind en word gewoonlik as vyandig beskou. Laasgenoemde is beskermend teen bose magie of bring goeie dinge vir die gebruiker. Towertradisies is aangeteken tot in 1648 in Moskou.

thumb|links|260px|Rusland het 'n lang musiekgeskiedenis. Vakansierituele Praktyke wat met baie vakansies verbind word, se oorsprong lê in magiese rituele. Nuwejaarsmusiek was oorspronklik 'n geleentheid vir huishoudings om vrygewendheid aan die begin van die nuwe jaar te betoon en so te verseker hulle het 'n voorspoedige jaar.

Op die eerste nag ná 'n troue is die paartjie se bed soms naby die vee geplaas sodat hulle die vrugbaarheid van hulle diere kon beïnvloed.

Ander tradisies met troues, soos om eiers te eet, onkuise liedere te sing en graan oor die getroude paartjie te strooi, is oorspronklik bedoel om vrugbaarheid en vooruitgang vir die paartjie te verseker.

Towerspreuke