Die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Frans: Fédération ivoirienne de rugby, afgekort “FIR”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Ivoorkus beheer. Die beheerliggaam is in 1961 gestig en in Abidjan gesetel. Sedert 1988 verteenwoordig dit Ivoorkus by Wêreldrugby en sedert 1986 ook by Rugby Afrika (RA).
Geskiedenis Die Ivoriaanse Rugbyfederasie is in 1961 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Ivoriaanse Rugbyfederasie ’n stigterslid van die kontinentale beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika) wat in 1986 in Tunis deur agt beheerliggame gestig is.
Taak Die Ivoriaanse Rugbyfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Ivoorkus se nasionale seniorrugbyspan vir mans (die Olifante), vroue en jeug. Die FIR hou ook toesig oor sewesrugby in Ivoorkus en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Ivoriaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die Ivoriaanse Rugbyfederasie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Ivoorkus. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Ivoorkus oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem.
Die nasionale rugbykampioenskap in Ivoorkus (Championnat National de Rugby a XV) word in twee afdelings tussen altesaam 20 spanne met promosie en relegasie beslis. Die eerste afdeling Ivoorse Rugbyliga (Ligue ivoire rugby, LIR) word tussen agt spanne beslis en die tweede afdeling Rugbyskool (École de rugby) tussen twaalf spanne. Die meeste spelers van die Ivoriaanse nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Frankryk aktief.
Kenteken Die Ivoriaanse Rugbyfederasie se kenteken toon ’n rugbyspeler met doelpale op die agtergrond en ’n Afrika-olifant, Ivoorkus se wapendier. Die nasionale span se bynaam is Les éléphants (“die olifante”).
Verwysings
Eksterne skakels Amptelike webwerf van die Ivoriaanse Rugbyfederasie
Kategorie:Rugby in Ivoorkus Kategorie:Rugbybeheerliggaam Kategorie:Wêreldrugby