Die Ugandese nasionale krieketspan (Engels: Uganda national cricket team; Swahili: Timu ya kriketi ya Uganda), met die bynaam “Cricket Cranes”, is die nasionale krieketspan wat Uganda in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Uganda deur die Ugandese Krieketvereniging (UCA, van Engels: Uganda Cricket Association; Swahili: Shirikisho la Kriketi Uganda) beheer. Uganda is sedert 1998 ’n assosiaatlid van die Internasionale Krieketraad (IKR). Saam met Kenia en Namibië is Uganda tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikakrieketspanne na die toetslande Suid-Afrika en Zimbabwe.
Uganda het reeds vroeg in 1914 met ’n internasionale span teen die Oos-Afrikaanse Protektoraat te staan gekom, maar hulle het eers van die vroeë 1950’s af gereeld teen ander spanne begin speel en gereeld reekse teen die plaaslike mededingers Kenia en Tanzanië (destyds Tanganjika) beslis. Van 1966 af het Uganda spelers beskikbaar gestel vir die gesamentlike Oos-Afrikaanse span wat in 1989 die Oos- en Sentraal-Afrikaanse span geword het; as Oos-Afrika het hulle aan die eerste Krieketwêreldbeker 1975 deelgeneem.
Tydens die IKR-trofee 2001 in Kanada het die land op sy eie deelgeneem. Uganda het aan die volgende drie toernooie deelgeneem, wat later in krieketwêreldbekerkwalifisering hernoem is, maar hulle kon nie vir ’n krieketwêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Tydens die Wêreldkrieketliga het Uganda drie keer die Wêreldkrieketliga se afdeling twee gehaal, maar hulle het elke keer na afdeling drie teruggeval. Die span het ook ses keer aan die T20I-wêreldbekerkwalifisering deelgeneem en die 2023-kwalifisering as naaswenner ná Namibië afgesluit, waarmee hulle vir die T20I-wêreldbeker 2024 kon kwalifiseer, hul eerste deelname aan dié toernooi. In dié proses kon hulle onder andere die volle lid Zimbabwe vir die eerste keer klop. Daarmee het hulle ná die volle lede Suid-Afrika en Zimbabwe, asook die assosiaatlede Namibië en Kenia die vyfde Afrikaland geword wat vir ’n internasionale kriekettoernooi kon kwalifiseer. Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 kon Uganda Papoea-Nieu-Guinee klop, gelyk aan hul eerste T20I-wêreldbekeroorwinning en eerste oorwinning in enige IKR-toernooi ooit.
In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Uganda ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Uganda is tans (April 2026) 21ste op die Twintig20-wêreldranglys.
Beheerliggaam
Die Ugandese Krieketvereniging (Engels: Uganda Cricket Association, UCA; Swahili: Shirikisho la Kriketi Uganda) is in 1952 gestig en verantwoordelik vir die reël van krieket in Uganda. In 1998 het hulle as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR) aangesluit. In dieselfde jaar het hulle by die Afrikakrieketvereniging (Africa Cricket Association, “ACA”) aangesluit.
Die Ugandese Krieketvereniging bestuur al die Uganda-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die UCA verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Ugandese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Uganda oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.
Geskiedenis Beginjare Britse koloniste het krieket aan die einde van die 19de eeu na Uganda gebring. In 1900 is daar vir die eerste keer krieket in Uganda gespeel. Nasionale wedstryde (“Amptenare t Settlers”) is van 1910 tot in 1964 gereeld beslis, maar geen interterritoriale wedstryde is gespeel nie. In 1914 is ’n Keniaanse span vir die eerste keer in Uganda verwelkom en wen die Keniane met vyf paaltjies tydens 'n wedstryd in Entebbe. Ná die toestroming van Indiese arbeiders na Afrika om die streek se spoornetwerk op te rig het die gewildheid van krieket toegeneem en aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was dit een van die mees beoefende sportsoorte in die streek.
Oos-Afrikaanse span
duimnael|Vlag van die Oos-Afrikaanse nasionale krieketspan, later Oos- en Sentraal-Afrika In 1951 is die Oos-Afrikaanse Krieketkonferensie (Engels: East Africa Cricket Conference, EACC; later die Oos- en Sentraal-Afrikaanse Krieketkonferensie, East and Central Africa Cricket Conference, ECACC) gestig as die beheerliggaam van krieket in die streek. Hulle het toesig gehou oor die interkoloniale wedstryde tussen die drie stigtingslede Kenia, Uganda en Tanganjika. Later in dieselfde jaar het ’n saamgestelde Oos-Afrikaanse span Rhodesië gehuisves. In 1952 is die Ugandese Krieketvereniging (Engels: Uganda Cricket Association, UCA; Swahili: Shirikisho la Kriketi Uganda) gestig en in dieselfde jaar het ’n Ugandese span vir die eerste keer in ’n driehoekige toernooi teen Kenia en Tanganjika gespeel. Een jaar later het Uganda sy eerste oorwinning behaal, toe hulle Tanganjika met vyf paaltjies kon klop.
Oos-Afrika se volgende gedokumenteerde wedstryd was in 1956 teen ’n besoekende Pakistanse span. Onder die kapteinskap van Denis Dawson (die broer van die Suid-Afrikaanse toetsspeler Ossie Dawson) het die Oos-Afrikane die driedaagse wedstryd met agt paaltjies verloor. In die volgende jaar is die Oos-Afrikane deur die besoekende Sunder-krieketklub met nege paaltjies verslaan. In 1958 het ’n Suid-Afrikaanse span met spelers van ’n nie-Europese herkoms na die streek getoer en een wedstryd teen Oos-Afrika in Nairobi gespeel. Onder hul kaptein Malcolm Ronaldson, ’n voormalige eersterangse speler vir die Oostelike Provinsie, is Oos-Afrika in dié wedstryd deur die Suid-Afrikane met sewe paaltjies verslaan.
Gedurende die 1960’s het Oos-Afrika verskeie toerende spanne ontmoet. In 1962 het hulle twee wedstryde teen die Statebond se krieketspan gespeel. In die eerste wedstryd in Nairobi (10 tot 12 Februarie 1962) is die Oos-Afrikane met 20 lopies geklop. Dié wedstryd word veral onthou vir ’n vinnige honderdtal deur Basil D'Oliveira in die Statebondspan se tweede beurt. In die tweede wedstryd in Oktober, ook in Nairobi, het die Statebondspan Oos-Afrika met 118 lopies geklop. Die besoekende Marylebone-krieketklub (MKK) het in 1963/64 drie wedstryde in Uganda gespeel, een in Tanganjika en sewe in Kenia. Een van dié wedstryde teen die Oos-Afrikaanse span in Kampala het die MKK met ’n beurt en 71 lopies gewen. Die Oos-Afrikaanse span het vyf Ugandese spelers ingesluit. In 1966 het Oos-Afrika by die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) as ’n assosiaatlid aangesluit. In dieselfde jaar het Zambië by die jaarlikse toernooi aangesluit, wat daarmee ’n vierhoekige toernooi geword het. In Augustus 1967 het die besoekende Indiërs teen Uganda met ses paaltjies en een driedaagse eersterangse wedstryd teen Oos-Afrika, wat ses Ugandese spelers ingesluit het, met agt paaltjies gewen. In 1968 het ’n internasionale span van Engelse eersterangse spelers in ’n driedaagse wedstryd teen Oos-Afrika in Nairobi onbeslis gespeel. In dieselfde jaar het Warwickshire in Uganda ook onbeslis gespeel en later het Uganda in Nairobi teen Kenia met 436 lopies sy hoogste telling ooit aangeteken.
In Junie en Julie 1972 het Oos-Afrika Engeland vir 18 wedstryde teen plaaslike spanne besoek en ’n oorwinning oor Noord-Wallis aangeteken. Geen van dié wedstryde het eersterangse status geniet nie. Die MKK het in 1973/74 weer Oos-Afrika besoek. In Desember 1973 het hulle twee wedstryde in Zambië gespeel, gevolg deur nog twee in Tanzanië en toe vier in Kenia. Hul enigste wedstryd teen die volle Oos-Afrikaanse span, wat oor eersterangse status beskik het, is deur die MKK met 237 lopies gewen.
Oos-Afrika is genooi om aan die eerste Krieketwêreldbeker 1975 deel te neem. Hulle was naas Sri Lanka een van twee nietoetspanne wat vir dié toernooi genooi is. Kenia het die helfte van die span se 14 spelers gestel. Voor dié toernooi is die span se deelname egter bevraagteken, nadat Tanzanië gedreig het sy spelers te verbied om na Engeland te toer in protes teen die Britse en Ierse Leeus-rugbyspan se toer na Suid-Afrika onder apartheid in 1974. Die insluiting van Oos-Afrika is as ’n belangrike stap vir die toernooi beskou, aangesien die deelname van ’n Afrikaspan as nodig geag is om van dit ’n ware wêreldbekertoernooi te maak. Die twee sterkste krieketlande in Afrika, Suid-Afrika en Rhodesië, het hul spelers op grond van ras gekeur en is uitgesluit as deel van die sportboikot teen Suid-Afrika, waarvolgens Oos-Afrika as Afrikaverteenwoordiger deelgeneem het. Ná opwarmingswedstryde teen Somerset, Wallis, Glamorgan en verskeie ander klubspanne, het hulle in die eerste rondte teen Engeland, Indië en Nieu-Seeland gespeel, maar al drie sy wedstryde verloor. Die krieketwêreldbekertoernooi is opgevolg deur ’n eersterangse wedstryd teen Sri Lanka op die County Ground in Taunton.
In 1978 het die Minor Counties Krieketvereniging Kenia besoek vir sewe wedstryde, waaronder twee teen Oos-Afrika. Die eerste wedstryd met 60 boulbeurte het die Minor Counties met agt paaltjies gewen. ’n Beplande driedaagse wedstryd is afgelas sonder dat ’n bal geboul is. Oos-Afrika het aan die IKR-trofeë in 1979, 1982 en 1986 deelgeneem, maar hulle kon nie vir die krieketwêreldbekertoernooie in 1979, 1983 en 1987 kwalifiseer nie.
Die jaarlikse toernooi teen Kenia en Tanganjika is voortgesit, hoewel Kenia in 1981 van die Oos-Afrikaanse span weggebreek het en voorts deur sy eie nasionale span verteenwoordig is. In 1966 is die driehoekige toernooi in ’n vierhoekige omskep, nadat Zambië aangesluit het. Tot in 1980 kon Uganda dié toernooi slegs een keer wen.
Oos- en Sentraal-Afrikaanse span
In 1989 het die Oos-Afrikaanse span homself aan die IKR onttrek en is in dieselfde jaar deur die Oos- en Sentraal-Afrikaanse krieketspan vervang. Dié nuwe span was ’n gesamentlike span van Malawi, Tanzanië, Uganda en Zambië, en hulle het in 1990 vir die eerste keer aan die IKR-trofee deelgeneem, en daarna in 1994, 1997 en 2001, maar hulle kon nie vir die krieketwêreldbekertoernooie in 1992, 1996, 1999 en 2003 kwalifiseer nie.
IKR-lidmaatskap Uganda het homself aan die Oos- en Sentraal-Afrikaanse span onttrek en in 1998 en op sy eie as ’n assosiaatlid by die IKR aangesluit. Hul eerste internasionale toernooi was die IKR-trofee 2001. Nadat hulle al hul wedstryde tydens die eerste rondte kon wen, het hulle die uitspeelwedstryd teen die Verenigde Arabiese Emirate verloor en sodoende die tweede rondte, asook die Krieketwêreldbeker 2003 misgeloop. In die daaropvolgende jaar het hulle die derde plek beklee in hul groep tydens die Afrikabeker.
In 2004 het Uganda tydens die Interkontinentale Beker sy eerste internasionale wedstryde teen Kenia en Namibië gespeel en kon laasgenoemde klop. In Augustus dieselfde jaar het hulle die Afrikakrieketvereniging se Kampioenskap in Zambië as naaswenner ná Namibië afgesluit. Daarmee het hulle gekwalifiseer vir die daaropvolgende jare se IKR-trofee wat hulle in die twaalfde en laaste plek afgesluit het, nadat hulle in die laaste uitspeelwedstryd teen Papoea-Nieu-Guinee vasgeval het, waarmee hulle nie vir die Krieketwêreldbeker 2007 kon kwalifiseer nie. Vroeg in dieselfde jaar het hulle tydens die Interkontinentale Beker teen Namibië en Kenia te staan gekom, maar albei wedstryde verloor.
Nog wêreldbekerkwalifiseringstoernooie duimnael|upright|Joel Olwenyi, voormalige kaptein van die Ugandese nasionale span duimnael|Uganda vier hul oorwinning tydens die Wêreldkrieketliga se afdeling drie in 2007