Die Dodetempel van Hatsjepsoet (Egipties: Ḏsr-ḏsrw, "Allerheiligste") is 'n dodetempel wat in die tyd van farao Hatsjepsoet van die 18de Dinastie gebou is. Dit is oorkant die stad Luxor geleë en word beskou as 'n meesterstuk van antieke argitektuur.

Die tempel se drie enorme terrasse styg uit bo die woestynbodem tot in die kranse van Deir el-Bahari. Hatsjepsoet se grafkelder, KV20, is in die Vallei van die Konings. Oorkant die Nyl wys die hele struktuur na die monumentale agtste spanmas, Hatsjepsoet se herkenbaarste byvoeging tot die Tempel van Karnak. Die dodetempel se dubbele funksie word deur sy asse geïdentifiseer: Sy hoofas van wes na oos het ten doel gehad om die bark (boot) van Amoen-Re te ontvang tydens die hoogtepunt van die Mooi Fees van die Vallei, terwyl sy as van noord na suid die lewensiklus verteenwoordig van die farao van sy kroning tot sy hergeboorte.

Die tempel is gebou tussen Hatsjepsoet se sewende en 20ste bewindsjaar. Die ontwerp is in 'n groot mate beïnvloed deur die Dodetempel van Mentoehotep II van die 11de Dinastie, wat ses eeue tevore gebou is. Dit is egter heeltemal uniek wat sy kamers en heiligdomme betref. Die hoofas, wat gewoonlik vir die dodekompleks gebruik is, word beslaan deur die heiligdom van die bark van Amoen-Re, terwyl die dodekultus van noord na suid geplaas is en die sekondêre as vorm. Apart van die hoofheiligdom lê die heiligdomme vir Hathor en Anoebis op die middelste terras. Die suilegange aan die voorkant van die terras bevat die merkwaardigste reliëfs van die tempel: dié van die ekspedisie na die land Poent en die goddelike geboorte van Hatsjepsoet, die belangrikste deel van haar aanspraak om die troon te beset as lid van die koninklike familie en as 'n goddelike afstammeling.

Die toestand van die tempel het mettertyd agteruitgegaan. Twee dekades ná Hatsjepsoet se dood is verwysings na haar bewind onder leiding van Toetmoses III uitgewis of onregmatige oorgeneem. Die rede is onduidelik. 'n Persoonlike wrok lyk onwaarskynlik, want Toetmoses het eers 20 jaar gewag voor hy opgetree het. Dalk het 'n dispuut tussen die Ahmose- en die Toetmoses-lyn daartoe gelei. In die Amarnatydperk was die tempel weer in gevaar toe Achenaten gelas het dat alle beelde van Egiptiese gode, veral dié van Amoen, vernietig word. Dié skade is eindelik deur Toetankamen, Horemheb en Ramses II herstel. 'n Aardbewing in die Derde Oorgangstydperk het verdere skade aangerig. In die Ptolemeïese tydperk is die heiligdom van Amoen herbou en 'n nuwe suilegang voor die ingang daarvan opgerig. 'n Koptiese klooster is tussen die 6de en 8ste eeu n.C. daar gebou, en beelde van Christus is bo-oor die oorspronklike reliëfs geverf. Die laaste graffito in die tempel kom uit omstreeks 1223.

Die tempel het weer in die moderne annale verskyn toe Richard Pococke, 'n Britse reisiger, dit in 1737 besoek het. Ernstige uitgrawings is egter eers in die 1850's en 1960's onder leiding van Auguste Mariette gedoen. Die tempel is tussen 1893 en 1906 heeltemal uitgegrawe tydens 'n ekspedisie onder leiding van Édouard Naville. Nog werk is van 1911 tot 1936 gedoen deur Herbert E. Winlock en die Metropolitan-kunsmuseum (MMA), en van 1925 tot 1952 deur Émile Baraize en die Egiptiese Oudhedediens. Herstelwerk duur voort en dit is in Maart 2023 vir die publiek oopgestel.

Ontwerp duimnael|links|180px|Die tempelplan: 1) ingang; 2) onderste terras; 3) onderste suilegange; 4) skuinstes; 5) middelste terras; 6) middelste suilegange; 7) noordelike suilegange; 8) Hathor-heiligdom; 9) Anoebis-heiligdom; 10) boonste terras; 11) feesbinnehof; 12) Amoen-heiligdom; 13) sonkultushof; en 14) dodekultuskompleks.

Vandat sy die troon bestyg het, het Hatsjepsoet die wet van monumentoprigting hernu. Die fokuspunt van haar aandag was die stad Thebe en die god Amoen, deur wie sy haar bewind gewettig het.

Amoen se belangrikste woning was die Tempel van Karnak, waartoe Hatsjepsoet die agtste spanmas bygedra het; dit was twee obeliske van 30,5 meter hoog, met kapelle, 'n heiligdom met nog twee obeliske, en standbeelde van haarself. Oorkant die Nylrivier het sy 'n dodetempel teen die kranse van Deir el-Bahari laat bou. Dit was die hoogtepunt van haar argitektoniese bydraes en word beskou as een van die groot argitektoniese wonders van die antieke wêreld.

By sy oostelikste punt is 'n valleitempel geleë, gevolg deur 'n pad van 1 km lank en 37 meter breed, met 'n barkstasie by sy middelpunt, wat tot die ingangspoort van die dodetempel gelei het. Hier styg drie enorme terrasse bo die woestynbodem uit en lei na binne die Djeser-Djeseroe, of "allerheiligste".

Feitlik die hele tempel is van kalksteen gebou, met ook rooi graniet en sandsteen. 'n Enkele kosynlys is van violet sandsteen gebou wat blykbaar uit die Dodetempel van Mentoehotep II verkry is. Dié tempel, wat eeue tevore gebou is en net suid van Hatsjepsoet s'n geleë is, was die inspirasie vir haar ontwerp.

Op sy hoofas en aan die punt van Hatsjepsoet se dodetempel is die hoofkultusterrein, 'n heiligdom vir Amoen-Re, wat sy bark elke jaar in Mei ontvang het tydens die Mooi Fees van die Vallei. In die suide is die offerandesale van Toetmoses I en Hatsjepsoet, en in die noorde die sonkultushof. Buite is nog twee heiligdomme gebou, vir Hathor en Anoebis. Die tempel bestaan uit altesaam vyf kultusterreine.

Die identiteit van die argitek van die dodetempel is onduidelik. Moontlik was Senenmoet, die opsiger van werke, of Hapoeseneb, die hoëpriester, daarvoor verantwoordelik. Hatsjepsoet self het waarskynlik ook insette gelewer. In die boutydperk, van Hatsjepsoet se sewende tot haar 20ste bewindsjaar, is die plan verskeie kere hersien.

Oor die algemeen is die tempel verteenwoordigend van die Nuwe Ryk se grafargitektuur wat ten doel gehad het om die farao te verheerlik en die gode van die hiernamaals te vereer.

Argitektuur Terrasse Die tempel bestaan uit drie terrasse met 'n suilegang voor elk wat na die tempel lei. Dit kan bereik word met pad van 1 km lank van die valleitempel af. Elke terras is deur 'n skuinste bereik wat die suilegange in twee verdeel.

Die onderste terras is 120 m diep en 75 m breed, en is omring deur 'n muur met 'n enkele ingang van 2 m breed in die middel van sy oostekant. Op dié terras is twee bome (Mimusops schimperi), twee T-vormige skottels waarin papirusse en blomme geplaas is en twee standbeelde van leeus. Die suilegange van die onderste terras is 25 m breed en bevat elk 22 pilare, of suile, wat in twee rye gerangskik is. Teen die mure is reliëfs.

duimnael|290px|Hatsjepsoet se ekspedisie na Poent. Die reliëfs teen die suidelike suilegang se mure beeld die vervoer van twee obeliske uit van Elefantine na die Tempel van Karnak in Thebe, waar Hatsjepsoet die obeliske en die tempel aan Amoen-Re oorhandig. Hulle bevat ook uitbeeldings van Dedoen, 'n god van Nubië, en die "Stigtingsritueel". Die reliëfs teen die suilegang aan die noordekant beeld Hatsjepsoet uit as 'n sfinks wat haar vyande verwoes, asook jag- en hengeltonele, en offerandes aan die gode. Die buitenste ente van die suilegange huisves Osirisagtige standbeelde van 7,8 m hoog.

Die middelste terras is 75 m diep en 90 m breed, en bevat suilegange een die westekant en 'n deel van die noordekant. Die westelike suilegange het 22 pilare wat in twee rye gerangskik is en die noordelike suilegang 15 pilare in 'n enkele ry. Die reliëfs van die westelike suilegange op dié terras is die merkwaardigstes van die hele tempel. Die suid-wes-suilegang beeld die ekspedisie na die land Poent en die vervoer van eksotiese goedere na Thebe uit. Die noord-wes-suilegang beeld die goddelike geboorte uit van Hatsjepsoet aan Toetmoses I, wat uitgebeeld word as Amoen-Re, en koningin Ahmose. So het sy haar bewind gewettig as lid van 'n koninklike lyn én 'n goddelike afstammeling. Dit is die oudste bekende toneel van dié aard.

Bouwerk aan die noordelike suilegang en vier van sy vyf tempels is gestaak voordat dit voltooi is en hulle het dus geen reliëfs nie. Die terras het waarskynlik ook sfinksbeelde gehad aan die pad na die volgende skuinste, waarvan die trapleuning versier was met valke wat op opgekrulde kobras rus. In die suid-westelike en noord-westelike hoek van die terras is die heiligdomme vir onderskeidelik Hathor en Ra.

Die boonste terras het 26 pilare, met voor elkeen 'n Osirisagtige beeld van 5,2 m hoog van Hatsjepsoet. Hulle word in die middel verdeel deur 'n granietpoort wat toegang tot die feesbinnehof verleen het. Dié verdeling word ook geografies verteenwoordig, want die suidelike beelde het die Hedjet van Bo-Egipte op en die noordelike beelde die Pschent van Benede-Egipte. Die suilegang hier voltooi die verhaal van die voorafgaande suilegange met die kroning van Hatsjepsoet as farao van Bo- en Benede-Egipte. Die binnehof word omring deur pilare: twee rye aan die noorde-, ooste- en suidekant, en drie rye aan die westekant. Agt kleiner en 10 groter nisse is in die westemuur uitgekap; hulle het vermoedelik knielende en staande beelde van farao Hatsjepsoet bevat.

Die oorblywende mure bevat reliëfs: die Mooi Fees van die Vallei in die noorde, die Opetfees in die ooste en die kroningsrituele in die suide. Drie kultusterreine vertak uit die binnehof. Die heiligdom van Amoen lê wes op die hoofas, die sonkultushof noord en 'n kapel wat aan die dodekultusse van Hatsjepsoet en Toetmoses I opgedra is in die suide.

Hathor-heiligdom Aan die suidekant van die middelste terras is 'n heiligdom wat aan die godin Hathor opgedra is. Dit word van die tempel geskei deur 'n skuinste van die onderste terras af en verleen toegang tot die heiligdom. Daar is ook 'n alternatiewe ingang op die boonste terras. Die mure van die ingang bevat tonele van Hathor wat deur Hatsjepsoet gevoer word. Binne-in is twee sale, een met 12 pilare en die ander met 16. Daarop volg 'n portaal met twee pilare en 'n dubbele heiligdom.

Reliëfs teen die mure van die heiligdom beeld Hathor saam met Hatsjepsoet uit, asook die godin Weret-hekhaoe wat 'n halsband aan die farao gee, en Senenmoet. Hathor het 'n speiale betekenis in Thebe; sy verteenwoordig die heuwels van Deir el-Bahari. Hatsjepsoet stel haarself ook voor as 'n reïnkarnasie van die godin. Verder word Hathor verbind met Poent, wat die onderwerp van reliëfs in die naaste suilesaal is.

Anoebis-heiligdom Aan die noordekant van die middelste terras is 'n heiligdom vir die god Anoebis. Dit is kleiner as Hathor s'n. Dit bestaan uit 'n suilesaal met 12 pilare, wat in drie rye van vier elk gerangskik is, gevolg deur twee kamers wat in 'n klein nis eindig.

Beelde teen die mure is van offerandes en ander kultusbedrywighede, met 'n reliëf van Anoebis wat Hatsjepsoet na die heiligdom vergesel. Die naam van Anoebis is gebruik om die erfgenaam van die troon aan te dui, wat die Egiptoloog Ann Macy Roth verbind met die reliëfs van Hatsjepsoet se goddelike geboorte.

Amoen-heiligdom duimnael|links|180px|Die Barksaal in die heiligdom vir Amoen.

Aan die agterkant van die tempel, op sy hoofas, is die hoogtepunt van die gebou: die heiligdom vir Amoen, aan wie Hatsjepsoet die tempel opgedra het as 'n "tuin vir my vader Amoen". Die eerste kamer is 'n kapel wat die bark van Amoen gehuisves het en binne-in is 'n ligvenster wat lig op Amoen se standbeeld laat val het. Die deurraam van die rooi granietingang beeld twee Amoens uit wat op 'n troon sit met hulle rug teen mekaar en konings wat voor hulle kniel, 'n simbool van Amoen se uiterste status in die heiligdom.

In die barksaal is tonele van offerandes deur Hatsjepsoet en Toetmoses I, vergesel van Ahmose en prinsesse Neferoere en Nefroebiti, asook vier Osirisagtige beelde van Hatsjepsoet in die hoeke, en ses standbeelde van Amoen in die nisse van die saal. In die ronde halfmaan bo die ingang na die tweede kamer word cartouches met Hatsjepsoet se naam omring en beskerm deur dié van Amoen-Re. Dié kamer was die plek waar die jaarlikse Mooi Fees van die Vallei geëindig het.