Eden Gardens is 'n internasionale krieketstadion in Kolkata, Wes-Bengale, Indië. Dit is in 1864 gestig en is die oudste en tweede grootste krieketstadion in Indië en derde grootste ter wêreld. Die stadion het tans 'n kapasiteit van 68 000.

Daar word dikwels na Eden Gardens verwys as die tuiste van Indiese krieket en word ook beskryf as "krieket se antwoord op die Colosseum" en die "Mekka van Indiese krieket" genoem, omdat dit die eerste doelgeboude terrein vir die sport is.

Eden Gardens het wedstryde in groot internasionale kompetisies aangebied, insluitend die krieketwêreldbeker-, T20I-wêreldbeker-, T20I-vrouewêreldbeker-, vrouekrieketwêreldbeker- en Asiatiese bekertoernooie. In 1987 het Eden Gardens die tweede stadion geword om 'n wêreldbekereindstryd aan te bied. Die T20I-wêreldbeker 2016-eindstryd is in die stadion beslis, met die Wes-Indiese span wat Engeland in 'n hewige stryd geklop het. Op dieselfde dag het die stadion die T20I-vrouewêreldbeker 2016-eindstryd aangebied, waartydens die Wes-Indiese vrouespan oor Australië geseëvier het.

Eden Gardens het in 1996 'n rekordskare van 110 564 gehad tydens die krieketwêreldbekerhalfeindstryd tussen Indië en Sri Lanka.

Stadion

Die stadion is die hoofkwartier van die Krieketvereniging van Bengale. Afgesien van internasionale wedstryde, huisves die stadion die Bengaalse krieketspan en die Kolkata Knight Riders Indiese Premierliga-franchise. Die stadion se klubhuis is vernoem na die voormalige hoofminister van Wes-Bengale, dr. B.C. Roy.

Pawiljoene Eden Gardens se pawiljoene is vernoem na prominente plaaslike krieketspelers en soldate. Op 22 Januarie 2017 is twee pawiljoene vernoem na Indiese krieketspelers – Sourav Ganguly en Pankaj Roy, terwyl nog twee na krieketadministrateurs vernoem is – BN Dutt (BCCI President van 1988 tot 1990) en Jagmohan Dalmiya (BCCI President van 2001–04, 2013 – tussentyds). Dalmiya het van 1997 tot 2000 as IKR-president gedien.

Ervaring Eden Gardens is bekend vir sy groot en passievolle toeskouerskares. Die voormalige Australiese kaptein Steve Waugh beskou Eden Gardens as die "Lord's van die subkontinent". Dileep Vengsarkar het Eden Gardens as die tweede beste na Lord's beskryf. Die voormalige Indiese kaptein en 'n boorling van Kolkata, Sourav Ganguly, het tydens 'n onderhoud erken dat die geskreeu van die skare by die stadion wat hy gehoor het toe Indië Australië in die tweede toets van die 2000–01 Border–Gavaskar-trofee verslaan het, die hardste was wat hy nog ooit gehoor het.

In 2016 is 'n klok by die stadion aangebring om die begin van die dag se spel vir toetskrieket, en die begin van die wedstryd vir eendag- en T20I-wedstryde in te lui. Kapil Dev was die eerste persoon om die klok te lui, en wel vir die toetswedstryd tussen Indië en Nieu-Seeland in September 2016.

Wedstryde Vrouekrieketwêreldbeker 1978

Krieketwêreldbeker 1987

Krieketwêreldbeker 1996

Vrouekrieketwêreldbeker 1997

Krieketwêreldbeker 2011

T20I-wêreldbeker 2016

T20I-vrouewêreldbeker 2016

Krieketwêreldbeker 2023

T20I-wêreldbeker 2026

Verwysings

Eksterne skakels

Eden Gardens op ESPNcricinfo

Kategorie:Krieketstadions in Indië Kategorie:Krieketwêreldbekerstadions Kategorie:T20I-wêreldbekerstadions Kategorie:Vrouekrieketwêreldbekerstadions Kategorie:T20I-vrouewêreldbekerstadions