Wladimir Dowdanof (Russies: Владимир Довданов) is 'n Kalmikiese politikus. Hy is 'n lid van die Oirat-Kalmikiese Volkskongres, 'n separatistiese organisasie wat hom beywer vir die onafhanklikheid van die Republiek van Kalmikië, tans 'n deelgebied van die Russiese Federasie.

Biografie Dowdanof is in 'n Boeddhisties-Kalmikiese familie in Gorodowikofsk gebore kort nadat sy ouers uit Siberië teruggekeer het, waarheen Josef Stalin se regering alle etniese Kalmikiërs in 1943 gedeporteer het. Aan die einde van die Sowjetera het Dowdanof as 'n hooggeplaaste polisiebeampte in Kalmikië se hoofstad, Elista, gewerk. In 1991 het hy die republiek se eerste taekwondofederasie gestig.

In Maart 2022 het Dowdanof saam met die voorsitter van die Oirat-Kalmikiese Volkskongres Arslang Sandzjijef en sy adjunkte Batir Boromangnajef en Adoetsje Erdnijef 'n resolusie onderteken wat die Russiese inval in Oekraïne veroordeel. Kort daarna het hy om veiligheidsredes uit Rusland na Litaue geïmmigreer en die status van 'n politieke vlugteling gekry.

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1959 Kategorie:Mense van Kalmikië Kategorie:Russiese politici