duimnael|Topografiese kaart van die 2023 Titan-onderwatervaartuig-voorval, wat die roete vertoon van die MV Polar Prince wat die Titan na die plek van die wrak van RMS Titanic vervoer het. Op 18 Junie 2023 het die Titan, 'n onderwatervaartuig wat deur OceanGate bedryf was, vermis geraak in internasionale waters in die Noord-Atlantiese Oseaan aan die kus van Newfoundland, Kanada. Die onderwatervaartuig was op 'n toeriste-ekspedisie om die wrak van RMS Titanic te besigtig, met vyf mense aan boord. Kommunikasie met die tuig is verbreek 1 uur en 45 minute na sy duik na die wrakterrein. Die owerhede is in kennis gestel toe dit later daardie dag nie weer op die geskeduleerde tyd verskyn het nie. Op 22 Junie, na die ontdekking van 'n wrakveld wat dele van die Titan bevat, ongeveer 488 m van die boeg van die Titanic deur 'n afstandbeheerde onderwatervaartuig, is daar vermoed dat die drukkamer tydens sy duik ingeplof het, wat almal aan boord onmiddellik sou gedood het.

Kommer oor die veiligheid van die vaartuig is voorheen geopper. Soek- en reddingspogings is uitgevoer deur 'n internasionale span wat bestaan het uit die Amerikaanse Kuswag, die Amerikaanse Vloot en die Kanadese Kuswag. Vliegtuie van die Kanadese Lugmag en die Amerikaanse Lugmag, 'n Kanadese vlootskip, en verskeie kommersiële en navorsingskepe en afstandbeheerde onderwatertuie het ook met die soektog gehelp.

Agtergrond OceanGate OceanGate is 'n privaatmaatskappy wat in 2009 deur Stockton Rush en Guillermo Söhnlein gestig is. Sedert 2010 vervoer dit betalende klante in kommersiële onderwatervaartuie langs die kus van Kalifornië, in die Golf van Meksiko en in die Atlantiese Oseaan.

Rush het besef dat die besoek van skeepswrakterreine 'n manier was om media-aandag te kry, en in 2016 het die maatskappy kliënte vir die eerste keer na 'n skeepswrak vervoer, met hul onderwatervaartuig Cyclops 1 om die Andrea Doria-wrakterrein te besoek. In 2019 het Rush aan die Smithsonian-tydskrif gesê: "Daar is net een wrak wat almal ken...as jy mense vra om iets onder die water te noem, gaan dit haaie, walvisse, Titanic wees."

Titanic Die Titanic was 'n Britse vaartuig wat op 15 April 1912 in die Noord-Atlantiese Oseaan gesink het nadat dit met 'n ysberg gebots het. In 1985 is die wrakstukke op die seebodem ongeveer 740 km van die kus van Newfoundland ontdek. Die wrak lê op 'n diepte van ongeveer 3 810 meter.

Sterftes Hierdie ramp het tot vyf sterftes gelei:

Shahzada Dawood (48), 'n Pakistani-Britse sakeman van die Dawood Hercules Corporation, 'n kleinseun van die Pakistanse nyweraar Ahmed Dawood en 'n trustee by die SETI-instituut. Hy was een van die rykste mense in Pakistan.

Suleman Dawood (19), die seun van Shahzada Dawood, wat 'n student aan die Universiteit van Strathclyde was. Volgens sy tante Azmeh Dawood was Suleman vreesbevange om op die reis te gaan, maar het dit gedoen om sy pa te behaag.

Hamish Harding (58), 'n Britse sakeman, vlieënier en ruimtetoeris. Hy het voorheen in die Marianatrog neergedaal, die Guinness-wêreldrekord vir die vinnigste omseiling van die aarde gebreek, en in 2022 op Blue Origin NS-21 die ruimte ingevlieg.

Paul-Henri Nargeolet (77), 'n voormalige Franse vlootbevelvoerder, duiker, dompelbootloods, lid van die Franse Instituut vir Navorsing en Ontginning van die See, en direkteur van onderwaternavorsing vir E/M Group en RMS Titanic, Inc., wat bergingsregte op die wrakterrein besit. Nargeolet het meer as 35 ekspedisies na die wrak gelei, toesig gehou oor die herwinning van duisende artefakte, en is wyd beskou as "die voorste gesag op die wrakterrein".

Stockton Rush (61), 'n Amerikaanse dompelbootloods, ingenieur en sakeman. Hy was die uitvoerende hoof en medestigter van OceanGate.

Verwysings

Kategorie:Skeepswrakke