Die Meeteren was 'n hoeker van die VOC wat op 7 November 1723 benoorde die Olifantsrivier aan die Weskus gestrand het. Uit die 29 persone aan boord is slegs 9 mans gered, 2 lyke is naby die wrak opgespoor, en die lot van die oorblywende 18 was vir 'n ruk lank onbekend.Huygens Instituut: Details of voyage 2547.2 from Texel: Meteren Tog duik daar later name en merke (soos dié van Meijndert Boekhout en Ijme Dommekragt) op in die afgelegte verklarings wat toon dat van die bemanning hul weg na die Kaap gevind het.

Agtergrond Die Meeteren of Meteren is in 1719 op die skeepswerf te Enkhuizen gebou.

Die skip is op 3 Februarie 1720 te water gelaat in Texel, met Koenraad in de Betouw as gesaghebber. Daar was altesaam 27 mense aan boord. Blykbaar het die skip kort daarna weer na die vaderland teruggekeer, want Koenraad in de Betouw verlaat Texel op 14 Mei 1720 met die Schoteroog, en kom op 19 Augustus 1720 in die Kaap aan, verlaat die Kaap op 6 Oktober 1720, en kom in Batavia op 7 Desember 1720 aan.Huygens Instituut: Details of voyage 2425.3 from Texel: Schoteroog

Van belang hier is 24 Mei 1723, die dag toe die hoeker vertrek vanuit Texel, met Willem van Turenhout as skipper, met altesaam 29 persone aan boord.

Die opdrag aan Hendrik Moel Die stranding vind op Sondag, 7 November 1723 plaas.

Op Donderdag, 16 Desember 1723, kom 'n boer genaamd Frans Haarhof aan en bring aan die Goewerneur die nuus dat daar tussen die Olifantsrivier en die "Verlooren Valleij", omtrent 31º20' S 'n hoeker gestrand het, waarvan nege mans, waaronder die gesaghebber en 'n stuurman, behoue gebly het. Hy kon egter nie die naam van die vaartuig vermeld nie. Toe hy wel noem dat die skip "met steen afgelaaden was geweest", kon daaruit afgelei word dat dit die Meeteren was. Die omvang van die skade sou deur die manskappe, onder leiding van Hendrik Moel, vasgestel kon word.Dagregister 1723, s.v. 16 Desember 1723

Op Vrydag, 17 Desember 1723, meer as 'n maand na die ramp, kom die skipper (gezaghebber), die onderstuurman, en drie matrose by die Kasteel aan en deel mee van die ramp wat hul oorgekom het, wat die gerugte in omloop bevestig.Dagregister 1723, s.v. 17 Desember 1723VOC Boek 9132, bl. 199, brief geteken 8 Januarie 1724

Al het meer as 'n maand verloop, en al kon die res van die bemanning teen hierdie tyd reeds omgekom het weens honger, dors, siekte, die natuurelemente ens., gelas die Politieke Raad nietemin op Dinsdag, 21 Desember 1723 dat 'n boer, Hendrik Moel, woonagtig in die omgewing waar die skeepsramp plaasgevind het, moontlike oorlewendes van die wrak moet gaan soek. Frans Haarhof, 'n boer woonagtig naby Drakenstein, moet hierdie brief so gou moontlik aflewer, omdat daar niemand anders is wat die pad na Hendrik Moel beter ken nie. Sowel Haarhof as Moel sou deur die VOC vergoed word.Towards A New Age of Partnership (TANAP) DVD: Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop, C. 69, pp. 67-69

Hendrik Moel is gebore as Heinrich Muhl, afkomstig van Burgvloesen, wat op 8 Januarie 1707 in diens van die VOC getree het as soldaat, en op 9 April 1715 uit diens getree en vryburger geword het. Blykbaar het Moel reeds in 1718 veeregte gekry om sy vee te laat wei in die omgewing van Saldanhabaai, en later in die omgewing van die Piketberge.Towards A New Age of Partnership (TANAP) DVD: Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop, Voetnota in .pdf C061-C070, bl. 184

Die brief het Moel "ter hande gekoomen" op Kersdag, Saterdag, 25 Desember 1723.VOC Boek 9132, bl. 184 e.v., brief geteken 24 Januarie 1724

Net mooi die volgende dag, op Sondag, 26 Desember 1723, kom daar nog vier oorlewendes by die Kasteel aan, wat dus nege oorlewendes beteken. Luidens sy verslag vertrek Moel ook op hierdie dag met 'n ossewa en padkos.

Moel kom op Saterdag, 1 Januarie 1724 by die wrak aan (sowat 7 tot 8 [Hollandse?] myl aan die oorkant van/anderkant die Olifantsrivier, dus, noord) en kon slegs twee liggame naby die wrak opspoor wat hy vermoed dié van drenkelinge is. Een is naby 'n tentjie begrawe met 'n kruis aan die koppenent om 'n vlak graf in die hoë sandduin aan te dui (met duie en bodems van vate toegemaak, moontlik om te keer dat die lyk nie uitgegrawe word deur aasdiere nie), en een lyk het nog op die strand gelê. Hoe gevorderd die staat van ontbinding was, word nie in die verslag vermeld nie. Moel kon in sy soektog geen verdere oorlewendes opspoor nie; wat dus van die ander 18 kon geword het, bly 'n raaisel, want dié is skoonveld.

Moel het wel in sy soektog op pad terug op Woensdag, 5 Januarie 1724 'n Khoi teengekom, wat by 'n ander Khoi twee weke tevore weer verneem het dat hy 'n blanke met drie hamme aan 'n stok oor sy skouer (waarvan een ham al aan gesny was) op byna dieselfde plek teëgekom het; die blanke het hom die pad gevra. Wat dit veral moeilik maak, ongeag hoe Moel ook al onder die stamme en Boesmans rondgevra het, is dat die oorlewendes se voetspore al langs die strand af of na die Olifantsrivier toe loop. En hier loop die spoor dood.

Die vaartuig sit nog presies daar soos toe die gesaghebber, stuurman en ander matrose die skip verlaat het. Die agterstewe staan na die land se kant toe, "med het agterschip na de Wal tuschen een meenigte van uytsteekende en blinde klippen". Die skuit is ook aan die een kant gebreek, en orals is daar "Stucken en brocken" wat "hier en daer op Strand Leggen", en vaatwerk wat stukkend geslaan is, en bedorwe touwerk. Moel skat met verloop van tyd sou die dek weens die swaarte daarvan op die romp neersak. Hierdie stuk is belangrik, want dit beteken dat dit nie wys sou wees om enige ondersoek in die ladingsruimte te gaan doen nie - dit is gans te gevaarlik.

Dinsdag, 11 Januarie 1724, na 'n vrugtelose ondersoek van 17 dae, is Moel weer tuis op sy plaas. Hy is kort daarna Kasteel toe om verslag te doen. Die verslag is op Maandag, 24 Januarie 1724, by die Kasteel onderteken.

Sy verslag lui so:

In stede daarvan om in kontant of betaling vergoed te word, verkies Moel liewer om die 30 morge (ongeveer 25 hektaar) grond van sy leenplaas in besit te neem, veral ook in ag genome dat sy plaas so te sê vir 17 dae tot stilstand gekom het, en dat hy sy eie proviand, waens, slawe, beeste ens. sonder versuim moes inspan daarvoor. Boonop was dit glad nie 'n maklike pad nie.

Op 1 Februarie 1724 word die volgende brief by die Kasteel bespreek (onderstaande 'n "copia autenticq"):VOC Boek 9132, bl. 187-188

Die Politieke Raad besluit om liewer geen verdere reëlings hieroor te tref nie, maar wil liewer die saak eers opneem met die "Hoge Indische Regeeringe" (want die Kaap is Batavia onderdanig). Tog voel die aanwesiges hierdie blyke van waardering sal die burgers aanspoor om "bij voorkomst van diergelijke droevige gevallen (voor 't welke God ons nogtans genadiglijk wil behoeden)" in die toekoms die ongelukkige skepelinge te versorg ("opqueeken", letterlik 'verkwik'), of landtogte die binneland in te onderneem, ens.Towards A New Age of Partnership (TANAP) DVD: Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop, C. 70, pp. 39-49 Vir die hedendaagse leser sal dit ook toon hoe goedkoop eiendom in die 1700's nog was.

Of Moel toe sy 30 morge grond gekry het is onseker, want op 18 Julie 1724 staan daar op die VOC se boeke: "Testament gemaekt hebbende overleeden. Tot zijn universeele Erfgenaem genoemt hebbende [d' wede.?] Claas Meyboom. Vide Caabs Vryboek 1724 f[olio] 17".Scheepsboek Huis te Loo. folio 159Nationaal Archief. VOC: Opvarenden, Voornaam opvarende: Hendrik Moel

Klipfontein het aan de Lange Vallei eers deel uitgemaak van die historiese 'Klipfontein aan de hoek van de Piketberg'. Mettertyd het die naam die verkorte vorm Lange Vallei aangeneem. Later was die naam Langvlei reeds ingeburger.Smith, M.H.D. 1985. Boerepioniers van die Sandveld Die naam Klipfontein speel ook 'n belangrike rol in die wetenskap van Suid-Afrika, want dit was een van die vernaamste plekke, aan die uithoek van die Kaap, waar Nicolas-Louis de Lacaille in die 1750's sy opmetings gaan maak het.

Lys van die bemanning Op 3 Februarie 1724 word die volgende lys name van die bemanning verstrek:VOC Boek 9132, Lijste der Manschap van den verongelukten Hoeker Meeteren, bl. 621 tot 622

Lijste der Manschap van den verongelukten Hoeker Meeteren

Aan de Caab gekomene

Willem Turnhout - gesaghebber Hendrik Henemans - tweede stuurman Lourens Koster - onderm: Nicolaas Berenhout - matroos Jochem Jong - matroos Hans Andriesse Stroovens - matroos Christoffel Cornelisz. - matroos Roeloff Pietersz. - matroos Jan Loots - jonge

Overledene op de Reijs

Cornelis Roeloffsz. - timmerman Claas Claasz. - matroos Pieter Gosses - matroos Pieter Wilkens - matroos Anthonij Frees - matroos Jurrian Simonsz. - matroos

Verdronkene in 't blijven

Claas Burg - constapel Sievert Rijkman - matroos Pieter Proost - matroos Pieter Domgart - matroos Jan Hendrikzen - matroos

Verblevene in de tent

Marte Corneliesz: - matroos Sijne Hansen - matroos Ijme Dommekragt - matroos Matthijs Hansz: - matroos

Agter geblevene op de Weg

Jurrien de Jong - matroos Carel Schoondragen - matroos Meijndert Boekhout - matroos Pieter Volkers - matroos

de Cok wiens naam onbekent is.

Makende dies te samen 29 koppen, met de welke uijt Texel in Zee zijn geloopen / was geteekent W: Turnhout / in margine / Capo de goede Hoop den 3. Februarij 1724 / Lager: / Accordeert: / was geteekent / R: Tulbagh E g Clercq

Verwysings

Kategorie:Skeepswrakke